17 Maart 2022
Die Tshwane-metro sê daar is géén manier vorentoe om stelsel operateurs van streek ses in die veld te kry sodat krag herstel kan word nie.
DIT kom te midde van inwoners in dele van Equestria en Die Wilgers wat reeds sedert Maandagmiddag sonder krag gelaat is. Stakende werkers, verbonde aan Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersvakbond (SAMWU) intimideer glo werkers wat bereid is om te werk, daarom kon die krag steeds nie herstel word nie.
Die Tshwane-metro meen die werkers vrees vir hulle lewens.
Wyk 85 se raadslid, Jacqui Uys sê werkers van die metro het reeds teruggekeer na hulle werk, maar die werknemers, wat binne die substasies moet werk is te bang om hulle werk te voltooi weens intimidasie.
Die metro se taakspan, wat bestaan uit burgemeesterskomiteelede, die metropolisie en die polisie bespreek nou volgens Uys alle moontlike opsies om toe te sien dat krag herstel word.