11 Julie 2024
Die verlore trouring, wat ‘n Pretoriase vrou in Waverley opgetel het, is gister (10 Julie) aan sy eienaar terugbesorg.
Lydia van der Kooy, sosialemediabeampte en bemarker by Sol-Tech het vroeër aan Pretoria FM vertel dat sy op 29 Junie by die Checkers in Waverley gestop het, waar sy die ring opgemerk het. Sy het dit gehou en sedertdien na die eienaar gesoek.
LEES OOK: LUISTER: EIENAAR VAN VERLORE TROURING GESOEK
Van der Kooy het gisteraand in ‘n Facebook-plasing geskryf dat sy die ring gister by die einste Checkers aan Daleen Taljaard kon terugbesorg. Sy sê Taljaard het vroeg gisteroggend vir haar ‘n foto van haar verlore ring gestuur, en toe is dit hare.
“Diep binne my is daar steeds ‘n sesjarige dogtertjie wat, ten spyte van die harde werklikheid van verval, diefstal, bedrog, hartseer ens, steeds bly glo in gelukkige eindes,” het Van der Kooy geskryf.
Foto: Lydia van der Kooy (links) en Daleen Taljaard, eienaar van die ring.