22 September 2022
Die departement van onderwys in Gauteng het bevestig dat twee mense in hegtenis geneem is wat na bewering koekies met dwelms daarin aan leerlinge van die Pulamadibogo Laerskool in Soshanguve verkoop het.
90 leerlinge tussen graad R- en graad 7 is vroeër vandeesweek in die hospitaal opgeneem nadat hulle van hierdie koekies, wat soos muffins gelyk het, by ‘n straatsmous buite die skool gekoop het.
Die LUR vir onderwys in Gauteng, Matome Chiloane het die polisie geloof vir hulle vinnige optrede. Hy sê al die kinders is reeds uit die hospitaal ontslaan.
Die twee verdagtes staar aanklagte van poging tot moord in die gesig en het reeds in die hof verskyn. Die saak is tot 29 September uitgestel.