30 Desember 2021
Die polisie in die Noord-Kaap se soektog na ‘n 17-jarige seun, wat vermis is na hy in die Oranjerivier gaan swem het, het nog geen uitslae gelewer nie.
Jean van Reenen Olivier van Kakemas het omstreeks 17:50 Dinsdagmiddag onder die water by Swartbooisberg verdwyn, nadat hy en ‘n vriendin geswem het. Volgens die polisiewoordvoerder, kaptein Nelis Prins is ‘n tweede en groter polisieboot ingespan om met die soektog te help.
LEES OOK: 17-JARIGE SEUN VERDWYN IN ORANJERIVIER; SOEKTOG DUUR VOORT
Prins sê die toestande vermoeilik die soektog omdat die rivier steeds baie sterk loop. “Die groter boot is beter toegerus vir die soektog en polisiebeamptes op die boot is baie goed opgelei om die moeilike toestande te kan hanteer,” sê Prins.
Boere help steeds met die soektog deur private vliegtuie en hommeltuie in te span.