26 Januarie 2025
Die man, wat gistermiddag by die Krugerwildtuin se Malelane-hek deur ‘n olifant doodgetrap is, het glo sy kleinkinders probeer beskerm.
Die polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Jabu Ndubane het vroeër vandag gesê dat die man as die 59-jarige Shaik Adam Shabir Ammed geïdentifiseer is. Hy is van Mpumalanga.
Volgens Ndubane dui ‘n voorlopige ondersoek daarop dat Ammed se twee kleinkinders, onderskeidelik vyf- en 11 jaar oud, foto’s van die olifant in die wildtuin, naby die hek geneem het.
LEES OOK: Toeris in Krugerwildtuin dood na olifant hom vertrap
Hy sê die olifant het skielik na die kinders gehardloop, wat toe saam met hulle oupa probeer wegkom het. Die 11-jarige seun het geval, waarna die olifant die kind met sy slurp aangeval het. Ammed is betrap toe hy sy kleinkind wou help.
Volgens Ndubane is Ammed op die toneel dood verklaar, en is die 11-jarige seun beseer. Die 5-jarige dogtertjie is ongedeerd.
Die woordvoerder van die Krugerwildtuin, Ike Phaahla het bevestig dat die polisie die voorval ondersoek. Hy kon nie sê of die olifant reeds van kant gemaak is, of van kant gemaak gaan word nie.
Foto: Ter illustrasie