13 April 2021
Die landbou-organisasie, Mpumalanga Landbou sê verlede Vrydag se voorval op ‘n plaas naby Dirkieskop in dié provinsie het glo voortgespruit uit ‘n onwettige betoging deur lede van ’n naburige gemeenskap en dat die mans nie op die plaas was om werk te soek, soos wat die polisie aanvanklik in ‘n verklaring gesê het, nie.
Dít kom nadat vier mans gister in die Piet Retief-landdroshof verskyn het op twee aanklagte van moord en een van aanranding. Volgens die voorlopige klagstaat word hulle van die moord op die broers, Amos en Zenzele Coka, beskuldig.
Die polisiewoordvoerder, kolonel Donald Mdhluli het die afgelope naweek in ‘n verklaring gesê dat ‘n groep mans na bewering op die plaas was om, volgens hom, seisoenale werk te soek.
Mpumalanga Landbou sê in hul verklaring dat die plaaseienaar egter glo ’n noodoproep uitgestuur het toe mense op die plaas se lewens na bewering bedreig is.
Volgens die organisasie het ‘n skermutseling glo uitgebreek waartydens een plaaswerker na bewering doodgeskiet is, ‘n betoger noodlottig gewond is, een boer het glo skedelbreuk opgedoen en verskeie ander boere is glo beseer.
Mpumalanga Landbou sê verder dat hulle die lewensverlies en gepaardgaande ernstige beserings betreur, maar dat hul egter ook die beskerming van lewens en eiendom ondersteun.
’n Vergadering sal ook gehou word met die LUR vir landbou, landelike ontwikkeling en grond- en omgewingsake, Mandla Msibi, om die saak verder te bespreek.
Intussen het talle betogers gister buite die landdroshof byeengekom, waar die vier mans verskyn het. Volgens Mdhluli was die polisie op ’n hoë gereedheidsgrondslag weens gemoedere wat hoog geloop het. Die betogers het onder meer gevra dat die mans nie op borgtog vrygelaat moet word nie.
Hulle bly in polisie-aanhouding totdat hulle weer op 19 April in die hof moet verskyn.