15 November 2022
Die burgemeester van Johannesburg, Mpho Phalatse het gevra dat ‘n volledige ondersoek gedoen word oor die kwalifikasies van die uitvoerende hoof van die Johannesburgse Padagentskap, Tsepo Mahanuke.
Sy sê sy het ook ‘n volledige verslag van die burgemeesterskomiteelid vir vervoer, Funzela Ngobeni, en die voorsitter van die padagentskap se direksie, Thabo Motloung, aangevra.
LEES OOK: “PROFESSOR, DOKTOR” BY PADAGENTSKAP SE KWALIFIKASIES IN TWYFEL GETREK
‘n Storm het om Mahanuke se kop losgebars nadat die Daily Maverick berig het dat Mahanuke beweer het dat hy ‘n graad het wat nie bestaan nie.
Een van die kwalifikasies waarop hy aanspraak maak word ook glo aan ‘n kandidaat uitgereik nadat ‘n honorarium aan die tersiëre instelling betaal word.
Sy CV meld glo dat hy ’n voorgraadse ingenieursgraad van die Vaal Universiteit vir Tegnologie ontvang het, maar hy het ’n diploma nadat hy ’n ingenieurstegnikuskursus voltooi het.