5 Julie 2022
Ian Cameron, die woordvoerder van die burgerregte-organisasie, Action Society sê hulle sal nie sit en stilbly terwyl misdaad buite beheer is nie.
DIT kom nadat ‘n spannende oomblik geheers het tussen Cameron en die polisieminister Bheki Cele vanoggend tydens ‘n vergadering oor misdaad in Nyanga en Gugulethu.
In ‘n video, wat op Facebook versprei is sê Cele dat Cameron vir hom niks kan sê oor menseregte nie en dat hy daarvoor baklei het.
LEES OOK: KYK: SPANNING HEERS TUSSEN CELE EN ACTION SOCIETY SE IAN CAMERON
Volgens ‘n verklaring deur Action Society is die organisasie deur slagoffers van geslagsgebaseerde geweld in die omgewing gevra om namens hulle die vergadering by te woon.
Cameron sê in reaksie op ‘n vraag het Cele hom beveel om stil te bly en te sit. Hy is toe deur polisiebeamptes uit die gebou vergesel. Hy meen Cele misbruik die polisie vir sy eie politieke gewin.
“Die polisie sal nooit daarin slaag om misdaad onder beheer te bring as Cele in die posisie as minister bly nie.” Hy sê Action Society sal aanhou om ‘n stem te wees vir diegene wat nie ‘n stem het nie.
Volgens Cameron oorweeg hy die moontlikheid om ‘n klag by die Onafhanklike Polisieondersoek-direktoraat (Opod) aanhangig te maak asook ‘n klag van aanranding by die polisie.