18 Februarie 2022
Die ATKV Buffelspoort-vakansieoord in Noordwes het gereageer op die nuus dat ‘n 68-jarige man in een van hulle vakansiehuisies doodgeskiet is.
Die polisiewoordvoerder, kolonel Adéle Myburgh het gistermiddag bevestig dat die 68-jarige Johannes Nicolaas Brits doodgeskiet is toe ‘n groep aanvallers omstreeks 01:00 gisteroggend toegang tot die huise verkry het. Brits, sy vrou en vier ander familielede het vakansie gehou.
Die ATKV sê die veiligheid van sy personeel en gaste is hul grootste prioriteit.
LEES OOK: MAN IN ATKV-VAKANSIEOORD DOODGESKIET
Hul sê dit is onmoontlik om op hierdie stadium te kan sê hoe die aanvallers toegang tot die oord verkry het, maar die oord werk saam met die polisie in sy ondersoek. Intussen kan gaste steeds die oord besoek, maar word veiligheidsmaatreëls opgeskerp.
“Ons vra dat mense geduldig moet wees in die moeilike tyd en vertrou dat die ondersoek so gou moontlik afgehandel sal wees.” Nog geen verdagtes is in hegtenis geneem nie.
Die oord het luidens sy verklaring medelye met Brits se naasbestaandes betuig.