4 Julie 2023
Die VF Plus het die optrede van adjunkpresident, Paul Mashatile se BBP-beskermingslede veroordeel nadat dit aan die lig gekom het dat hulle betrokke was by die aanranding van motoriste op die N1 in Fourways, Johannesburg.

‘n Video word tans wyd op sosiale media versprei waarin gesien kan word hoe die polisielede op die N1 stop, en drie mans aanrand, en dan wegry. Mashatile het vanoggend in ’n amptelike verklaring bevestig dat hy kennis dra van die voorval en dat die lede wel aan hom toegewys is.
Hy het ‘n versoek gerig aan die nasionale polisiekommissaris, generaal Fannie Masemola om die voorval te ondersoek en om die nodige stappe teen die lede te doen.
Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald sê hy bevraagteken die opleiding en professionaliteit van die lede, en meen indien hulle professioneel opgelei was, sou hulle geweet het om hul humeur te beteuel, ongeag die situasie.
LEES OOK: SLAGOFFERS IN N1-VIDEO GEÏDENTIFISEER
“Daar sal baie sterk opgetree moet word teen die betrokkenes. Hulle is duidelik nie geskik om te werk vir die BBP-beskermingsdiens nie en hulle sleep die naam van die eenheid deur die modder,” sê Groenewald. Volgens hom behoort hulle onmiddellik geskors te word, en meen daar moet dissiplinêr teen hulle opgetree word.

Ook die politieke organisasie, Build One South Africa het die voorval ten sterkste veroordeel, en meen dit gebeur te gereeld dat die publiek as die vyand behandel word. BOSA se woordvoerder, Sbu Zondi sê Mashatile moet verantwoordbaar gehou word.
“Mashatile was sy hande in onskuld en wil die blaam op almal anders plaas behalwe homself.” Hy sê Mashatile behoort uit sy eie sak te betaal vir die slagoffers se mediese onkoste.
AfriForum eis ook ‘n dringe ondersoek na die gebeure op die N1.
“Ons verwelkom die feit dat die SAPD reeds ’n ondersoek na die voorval geloods het, maar ongelukkig het hierdie tipe gedrag kenmerkend van dié eenheid geword. Daar was al talle gevalle van boeliegedrag deur hierdie beamptes,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.
