Agt tot Tien Kantien

Maandae tot Vrydae
08:00 - 10:00

Luister nou

Volgende

Op Afrikadag ’n ernstige waarskuwing oor terreur

Nuuskommentaar: 2 Junie 2022

Deur: Jaco Kleynhans

Verlede Woensdag is Afrikadag gevier. Die stigting van die Organisasie vir Afrika Eenheid, vandag bekend as die Afrika-unie, word jaarliks op 25 Mei herdenk.

Daar is egter die afgelope twaalf maande min of geen vordering tot ‘n beter en meer stabiele Afrika-kontinent gemaak nie.

Vier lande in Afrika het verlede jaar staatsgrepe ervaar. Talle Afrikalande word steeds deur diktators of uiters outokratiese leiers wat demokratiese prosesse en instellings onderdruk, regeer.

Die huidige globale ekonomiese uitdagings, weens die pandemie en die oorlog in Oekraïne dreig ook om Afrika selfs meer as ander kontinente te raak.

Dit is egter ‘n toename in Islamitiese terreur wat tans die grootste bron van kommer in Afrika veroorsaak. By twee byeenkomste verlede week moes Afrikaleiers erken dat talle terreurgroepe tans besig is om teen ’n snelle pas in verskeie Afrikalande te organiseer.

Die Afrika-unie het verlede week ’n beraad oor terrorisme in die hoofstad van Ekwatoriaal-Guinee, Malabo, aangebied. Tydens dié beraad het verskeie sprekers bevestig dat terreurgroepe wat onder andere bande met Al-Kaïda en die Islamitiese Staat het, tans in verskeie lande, veral in Wes-Afrika, maar ook toenemend in lande in Oos- en Sentraal-Afrika, floreer.

Na staatsgrepe in Mali, Burkina Faso, Guinee en Soedan oor die afgelope twaalf maande en met ‘n militêre outokrasieë in Tsjad gebruik terreurgroepe wat groot terugslae in die Midde-Ooste, veral in Irak en Sirië ervaar het, nou ’n vastrapplek in hierdie en ander Afrikalande waar swak regerings en ’n uiters vatbare jong bevolking ’n teelaarde vir terreuraktiwiteite skep.

Behalwe vir ’n hele netwerk van terreurgroepe wat bande met die Islamitiese Staat en Al-Kaïda het, is Al-Shabaab en Boko Haram ook voortdurend besig om terreuraanvalle in veral Somalië en Nigerië uit te voer.

Nog ‘n belangrike geleentheid waar terreur in Afrika verlede week bespreek is, was die jaarlikse vergadering van die Global Coalition to Defeat ISIS, wat in Marrakech in Marokko plaasgevind het. Teenterrorisme-amptenare en diplomate van tagtig lande, insluitende die VSA en verskeie Europese lande, het in Marrakech oor die bedreiging wat die Islamitiese Staat tans in Afrika inhou, vergader.

Marokko se minister van buitelandse sake, Nasser Bourita, het tydens die vergadering gesê dat die Sahel-streek van Afrika nou die tuiste van die wêreld se vinniggroeiendste en gevaarlikste terreurgroepe is. ’n Amerikaanse kenner het tydens die vergadering gesê dat agt-en-veertig persent van wêreldwye sterftes weens terreur verlede jaar in Afrika suid van die Sahara plaasgevind het.

Die volgende paar jaar gaan groot uitdagings vir Afrika inhou. Die verlies aan demokrasie in die Sahel-streek, voortslepende konflik in verskeie Afrika-lande en ernstige vrees oor hongersnood, veral in Oos-Afrika, skep die perfekte omgewing vir terreurgroepe om in te funksioneer. Europese lande, en in besonder Frankryk, se besluit om hulle teenterreur aktiwiteite in Afrika drasties af te skaal speel ook in die hand van die terreurgroepe. Geen Afrikaland of Afrika-unie mag beskik tans oor die vermoë om die terreurgroepe suksesvol aan te vat nie.

Uit beide byeenkomste verlede week, onderskeidelik in Ekwatoriaal-Guinee en Marokko, was dit egter duidelik dat die Weste en Afrikaleiers die omvang van die krisis besef. Hopelik kan ‘n breë koalisie dringend ‘n strategie ontwikkel om die verspreiding van terreurgroepe in Afrika te stuit.

Intussen moet ons egter aanvaar dat meer terreuraanvalle in meer Afrikalande vir eers ‘n werklikheid gaan wees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

Glyryer2

16-JARIGE PRETORIANER DIE LAND SE JONGSTE GLYRYER

NUUSWEEK JACO

Internasionale perspektief: Brics groot, maar nog lank nie invloedryk

NUUSWEEK WILLIE

Eie rigting: Uitskop van adjunkminister Whitfield bied regs- en politieke opsies

KgosikgoloKgafelaKgafelaII_26June2025

Koning regeer oor afstand ná dreigemente

Jake_White_EHTL6442-scaled-e1673217119283

Jake White verlaat die Blou Bulle

Ander Nuus Artikels

re-elon-musk-donald-trump-1500-800
Elon Musk stig sy eie party
Screenshot 2025-07-05 112441
Solidariteit oorweeg regstappe teen Bidvest oor “rassistiese” beurs
Vrou wat kind doodry
Vrou wat glo sy ry eie kind dood, inspireer nou ander
Glyryer2
16-JARIGE PRETORIANER DIE LAND SE JONGSTE GLYRYER
NUUSWEEK JACO
Internasionale perspektief: Brics groot, maar nog lank nie invloedryk

Agt tot Tien Kantien

Maandae tot Vrydae
08:00 - 10:00

Luister nou

Volgende