Oorlog versteur magsverhoudinge regdeur Oos-Europa, Balkan en Wes-Asië


Luister nou

Volgende

Oorlog versteur magsverhoudinge regdeur Oos-Europa, Balkan en Wes-Asië

Nuuskommentaar: 15 Maart 2022

Deur: Jaco Kleynhans

Terwyl die huidige oorlog in Oekraïne verwoesting saai, is daar ook groot onsekerheid oor die invloed van die oorlog op magsverhoudinge in die hele Oos-Europa, die Balkanstreek en dele van Wes-Asië. Moldowa en Georgië, beide voormalige lidstate van die Sowjetunie, vrees dat die huidige oorlog na hulle kan oorspoel. In die Balkan sukkel sommige lande om kant te kies tussen Rusland en Oekraïne, terwyl kleiner voormalige Sowjetstate soos Armenië direk deur die oorlog en Rusland se isolasie geraak word.

Georgië was in 2008 in ‘n oorlog met Rusland gewikkel nadat twee provinsies van dié land, Abkasië en Suid-Ossetië onafhanklikheid verklaar het. Sedert die einde van die oorlog word die twee provinsies, wat 20% van Georgië se grondgebied uitmaak, steeds deur Russiese magte beset.

Moldowa en Georgië het die afgelope twee weke aangedui dat hulle by die Europese Unie wil aansluit, hoewel hulle versigtig is om by Navo aan te sluit omdat dit tot konflik met Rusland kan lei. Georgië het sedert die Roos Revolusie in 2003 ‘n pro-Westerse regering.

In Moldowa, die armste land in Europa, is die situasie selfs meer ingewikkeld. Maia Sandu is verlede jaar as Moldowa se eerste uitgesproke pro-Westerse president verkies. Moldowa se parlement het egter nog ‘n meerderheid pro-Russiese parlementslede. ‘n Deel van Moldowa, Transnistrië, vorm sedert 1992 ‘n defacto onafhanklike republiek en Russiese soldate help reeds vir drie dekades om dié wegbreekstreek te beset.

In die suidelike Kaukasiese streek, heers daar groeiende kommer oor die oorlog in Oekraïne. Twee duisend Russiese soldate is sedert einde 2020 daarvoor verantwoordelik om die vrede tussen Armenië en Azerbaidjan te bewaar. Die afgelope twee weke het Azerbaidjan egter verskeie aanvalle op etniese Armeniërs in die betwiste Nagorno-Karabach streek geloods en vrese neem toe dat sou Rusland sy soldate onttrek dit tot ‘n hernude oorlog kan lei. Armenië is ook ekonomies afhanklik van sy bande met Rusland.

In die Balkan-streek van suidoos Europa het die meeste lande die oorlog veroordeel. Serwië weier egter om dit te doen en beskou Rusland steeds as ‘n bondgenoot. Ook in Bosnië en Herzegowina word gevrees dat die oorlog in Oekraïne tot die verdere destabilisering van dié land kan lei.

Die Amerikaanse regering het verlede week weer bevestig dat sou Rusland op enige manier een van die Baltiese state, Letland, Litoue en Estland aanval, al die ander Navo-lidlande hulle te hulp sal snel. Dieselfde geld natuurlik ook vir Pole en ander Navo-lidlande in Oos-Europa. ‘n Enkele fout kan tot ‘n groot oorlog in Europa lei.

Dit is duidelik dat die Oekraine-oorlog en Rusland se veranderende posisie talle ou wonde in die streek oop krap en dat dit tot hernude onsekerheid en selfs konflik in Oos-Europa, die Balkan en Wes-Asië kan lei. Rusland se invloed in hierdie gebied is steeds groot en die oorlog, Rusland se isolasie deur die Weste en Wladimir Poetin se behoefte om sy posisie van invloed te behou, is ‘n gevaarlike mengsel vir ‘n streek wat reeds voor die oorlog geen tekort aan krisisse gehad het nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

ENOCH

Minister Godongwana lewer vir die 3de keer sy begrotingsrede

Untitled design (2)

Hoëgehalte Brandstof van DSL Fuels – Beter vir Enjins, Beter vir Jou Besigheid

GraUysfXsAAcdKU

Solidariteit doen ‘n beroep op Ramaphosa om stappe aan te kondig om verhouding met VSA te herstel

Geld-1

Verbruikersprysinflasie nou op 2,8%

IMG-20220418-WA0228

Addo-park maak geskiedenis met die verskuiwing van 42 olifante

Ander Nuus Artikels

Screenshot 2025-05-21 123804
Nuuskommentaar: Internasionale Museumdag (18 Mei) se oproep tot ons
GreTTOMXoAArt_c
“Apartheidsbelasting” van die hand gewys
Grekf-sXIAACXI5
Politieke partye, organisasies reageer op die derde begroting
ENOCH
Minister Godongwana lewer vir die 3de keer sy begrotingsrede
Untitled design (2)
Hoëgehalte Brandstof van DSL Fuels – Beter vir Enjins, Beter vir Jou Besigheid

Oorlog versteur magsverhoudinge regdeur Oos-Europa, Balkan en Wes-Asië


Luister nou

Volgende