Nuuskommentaar: 22 April 2022
Deur: Dr Hercules Boshoff
Die onlangse ongelukkigheid rondom die skommeling van programme by die openbare uitsaaier verdien verdere nabetragting. Dit het die vraag oor die rol van die media, sowel as die verhouding tussen openbare en gemeenskapsradio opnuut belig. Dit is goed dat hierdie gesprek deurlopend gevoer word nie alleen in die media nie, maar ook daarbuite.
Met die ingebruikneming van die drukpers het die publiek toegang tot gedrukte media gekry, wat versnel is met die elektroniese media in die 20ste eeu. Die indruk wat geskep word deur hierdie gegewens is dat die publiek deurlopend ingelig bly en dat die staat sodoende op hul tone gehou word. Daar is ʼn mate van waarheid aan hierdie aanname, hoewel dit nie so eenvoudig is nie.
Die moderne staat is nie totaal ontspoor deur die opkoms van die media nie. Inteendeel, Marshall McLuhan skryf in sy werk Understanding Media van 1964 hoe wesenlik die media, openbaar sowel as privaat, vir die funksionering van die moderne staat is. Hy verwys na die feit dat die staat deeglik bewus is dat inligting makliker deur prikkels, wat genoem word sensasie, versprei. Deur die sogenaamde newsleak, met ander woorde die lek van beleidsinligting aan kommentators, joernaliste en kenners wat goedsmoeds inligting aan die publiek oordra, word die brood aan beide kante gebotter: die staat hoef nie van amptelike platforms gebruik te maak om gewenste inligting oor te dra nie (hoe verder die bron van hulle eie platforms verwyder is, hoe makliker sal dit aanvaar word) en die media kry hulle scoop wat die indruk skep dat hulle op die voorpunt van sake staan.
Joernaliste, het die filosoof Arthur Schopenhauer geskryf, is soos honde. Hulle blaf vir enige iets. Meeste van die geluide voorspel nie werklike gevaar nie, en in lyn met McLuhan se beskrywing is meer van die geraas opsetlike afleiding as wat ons werklik besef, maar dit beteken nie dat ons die geraas bloot kan afmaak nie. Joernalistieke standaarde dien enersyds as belangrike filters maar andersyds is die publiek ook nie blote passiewe ontvangers van inligting nie. Gemeenskapsradio het luisteraars gelok omdat ʼn groter mate van vertroue gekweek is deur fokus op aangeleenthede buite die skopus van die direkte belang van die staat te plaas, op onder meer konstruktiewe bydraes wat op voetsoolvlak deur gewone burgers gelewer word. Die omvang daarvan is dalk nie so groot nie, en daarom word dit nie as ‘nuuswaardig’ geag nie. Nogtans word die openbare uitsaaier befonds deur belangbetalers se geld en moet die seggenskap wat ons daaroor het nie geringgeskat word nie. Opvoeding en deelname, wat toegang tot kritiese hoeke op verskeie sake insluit, is iets waarop alle burgers, of hulle luisteraars van openbare stasies is of nie, op moét aandring op hierdie kanale. Om hierdie rede bly die spanning en kompetisie tussen openbare en private uitsaaiers belangrike boustene van ʼn gesonde moderne demokratiese bestel, asook ʼn publiek wat nie net ingelig bly nie, maar eie leeswerk doen en deurlopend dieper gesprek voer en nie hulle ore vir enige iets uitleen nie, veral nie vir slegte musiek nie.