28 Januarie 2022
‘n Groep moedelose ouers van die Laerskool Theresapark in die noorde van Pretoria het vanoggend buite die skool bymekaar gekom om ‘n beswaarskrif aan die skoolhoof te oorhandig.
‘n Ouer by die skool, Danie Snyman sê ouers van leerlinge wat tans in graad 5 is en in 2017 in graad 1 was, is daardie jaar belowe dat hulle kinders onderrig in Afrikaans sal ontvang totdat hulle in graad 7 is. Nou wil dit egter voorkom asof dié skool voortaan net in Engels onderrig sal word.

Ontevrede ouers het aan amptenare van die onderwysdepartement gesê dat graad 1-leerlinge, wie se sibbe reeds in Laerskool Theresapark is kon nie in dié skool geplaas word nie omdat hulle glo nie Afrikaanse leerlinge aanvaar nie.
Die Bittereinders se jeugbeweging, was ook namens die ouers by die skool en het die memorandum aan die departement oorhandig. Hulle eis onder meer dat kinders hulle skoolloopbaan in Afrikaans mag voltooi en dat dié leerlinge nie meer onderrig in “stoorkamer” klasse ontvang nie.

Die skool is 14 dae gegun om op die memorandum te reageer.
Pretoria FM het die skool gekontak, maar hulle wou nie kommentaar lewer nie.