14 Desember 2022
2022 is byna iets van die verlede. Dit was ’n jaar wat gekenmerk is deur groot internasionale gebeure. Die oorlog van Rusland teen Oekraïne. Die magsopbou van China rondom Taiwan. Gereelde inperkings in China weens voortdurende uitbrekings van die gevreesde Covid-19 wat juis drie jaar gelede in Wuhan, in dié land se Hubei-provinsie, ontstaan het. Onluste in reaksie op die inperkings. Onrus in Iran en die wrede dood van ’n Koerdiese vroueaktivis in die land. Voortslepende spanning in die Midde-Ooste en vele meer.
In Suid-Afrika is ons ook nie die drama gespaar nie. Beurtkrag het begin hand uitruk. Korrupsie het só sistemies geraak dat dit eenvoudig lyk of dit nie gou in die kiem gesmoor gaan word nie. Die ANC kies ’n president en die twee kandidate word albei verdink van onwettige praktyke.
Die wêreld is in ’n warboel.
2 049 jaar gelede het Keiser Augustus aan bewind gekom as die keiser van Rome. Hy sou 41 jaar regeer en word vandag nog beskou as een van die grootste leiers van alle tye. Die bekende wêreld van daardie tyd het onder sy regering ’n goue era betree weens die rustigheid wat gevolg het ná die oorname van Keiser Augustus in die warboeljare wat gevolg het op die sluipmoord van Julius Caesar deur sy vertroueling, Brutus en ander lede van die Romeinse senaat.
Terwyl Augustus, as die grootste keiser van alle tye, aan bewind was het ’n timmerman van Nasaret en sy jong vrou, Maria na Betlehem gereis om by hulle dorp van oorsprong aan te meld vir ’n sensus wat deur Augustus uitgeroep is.
Maria was hoogswanger, maar geen gastehuis in die dorp het vir hulle plek gehad nie. Hulle het in ’n stal skuiling gaan soek en dáár is haar baba gebore. Die baba is Jesus genoem, in opdrag van die Engel wat aan haar verskyn het en haar beveel het om hom só te noem. Sy het Hom in ’n krip neergelê en skaapwagters uit die veld het aan Hom kom hulde bring asook wyse manne uit die Ooste.
Hy was die Seun van God, maar is verneder om mens te word, in ’n stal gebore te word. Sy ouers moes met hom vlug omdat die magshonger poppemeesterkoning, Herodus, hom wou uitwis. Vir Herodus was die nuus van ’n Kind wat gebore sou word, wie vir ewig oor Israel sou regeer en wie se koningsheerskappy nooit sal eindig nie, ’n bron van kommer. Dit was vir hom ’n bedreiging wat uitgewis moes word.
Maar die Kind het groot geword, volgelinge gekry, hulle geleer en vir skares gepreek. Die Kind het wonderwerke gedoen en vir die mense vertel van ’n nuwe koninkryk wat op pad was. Hy het te velde getrek teen skynheilige en liefdelose geestelike leiers van sy tyd. Hy het uitgereik na kindertjies en vroue, bedelaars, melaatses, gehate tollenaars en blindes.
Mense het nie verstaan wat sy nuwe koninkryk sou wees nie.
Dit sou nie ’n koninkryk wees wat Rome sou vervang nie. Dit sou ’n ewige koninkryk wees waar vergiffenis, naasteliefde en liefde en eer vir God die enigste doel sou wees.
Een van sy dissipels was só teleurgesteld dat hy besluit het om hom te verraai en hom help uitlewer het aan die haatdraende geestelike leiers van sy tyd.
Hy is eers deur sy volk se geestelike leiers verhoor en daarna deur Pontius Pilatus, die goewerneur oor daardie landstreek. Pilatus het hom oorgegee aan die massas wat Jesus enkele dae tevore “Hosanna” toegejuig het en nou sy kruisiging geëis het.
Ná sy wrede kruisiging is hy begrawe, maar binne drie dae sou hy opstaan, sy volgelinge bemoedig en terugkeer na die hemel, met ’n opdrag aan sy 11 oorblywende volgelinge om dissipels te maak van alle nasies en hulle te doop en te bou aan sy Ewige Koninkryk.
Hulle het só gemaak en só het ’n gebeurtenis plaasgevind wat die hele gang van die wêreld sou verander. Selfs ons jaartelling is jare vóór Christus en jare ná Christus.
In Rome sou die groot Keiser Augustus opgevolg word deur ’n swakker Tiberius en Tiberius deur die waansinnige Caligula. Ná hom Claudius en ná hom die ewe waansinnige Nero.
Die wêreldgeskiedenis het sedertdien sy gang gegaan met leiers van wie sekeres goed en groot was en veel meer van hulle swak en boos was. Maar die Ewige Koninkryk wat Jesus Christus kom vestig het, word steeds uitgebou deur sy volgelinge en die kerk. Soms gaan dit goed en groei sy kerk en soms gaan dit minder goed en kwyn die kerk, maar Hy hou dit steeds in stand en ons sien steeds uit na sy wederkoms, wanneer sy Ewige Koninkryk finaal voltrek gaan word.
Die jaar 2022 ná Christus is byna verby.
Pretoria FM leef in hierdie wêreld en ons bou aan die Ewige Koninkryk. Ons werk. Ons bou. Ons bring die goeie boodskap van die verlossing wat moontlik gemaak is deur die Kind wat gebore is in Betlehem.
Mag ons elkeen in hierdie tye van warboel die Ewige Koninkryk van Christus raaksien en daaraan bou. Mag liefde, vergiffenis, genade, geloof en die eer van God vir elkeen van ons luisteraars ’n werklikheid wees in hierdie tyd van feesviering, maar ook in die jare wat voorlê!
Geseënde Kersfees en ’n geseënde 2023.
Willie Spies
Uitvoerende voorsitter van Pretoria FM se direksie