16 Augustus 2024
Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, sê die provinsiale regering is vasbeslote om misdaad hok te slaan.
Hy het tydens die opening van die provinsiale wetgewer in Katlehong aan die Oos-Rand gesê misdaad is besig om die lewens van Gautengers te verwoes.
Lesufi sê die Gautengse regering het 250 nuwe voertuie aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens beskikbaar gestel vir polisiekantore om vinnig op misdaadtonele te reageer.
Hy het ook belowe dat die uitslag van leefstyloudits van hooggeplaaste amptenare – wat reeds afgehandel is – openbaar gemaak sal word.
Volgens hom het hy twee dae tevore die verslae van die spesiale ondersoekeenheid ontvang, en het nie al die amptenare die proses geslaag nie.