Nuuskommentaar: 10 Maart 2023
Deur: Ernst Roets
Die wêreld – veral die Westerse wêreld – het in beduidende mate gestandaardiseer op moderne idees oor byvoorbeeld die staat, menseregte en die mens as individu. Ons moderne manier van dink en doen sou vir ons voorouers heeltemal vreemd wees. Die regeringsvorm wat ons vandag as demokrasie beskryf is nie dieselfde soort demokrasie waarmee Piet Retief as leier van die Voortrekkers verkies is nie. Dit is in belangrike opsigte die teenoorgestelde as dit wat die Atheners as demokrasie beskou het.
In die lig van AfriForum se verskerpte veldtog vir federalisme is dit belangrik om die aandag daarop te vestig dat ons moderne, gestandaardiseerde manier van dink nie noodwendig die beste manier van dink is nie. Die woord modern verwys nie net na tegnologiese vooruitgang en vernuwing nie, maar ook na ’n nuwe ideologiese verwysingsraamwerk.
Demokrasie word nou voorgehou as ’n regeringstelsel wat gekenmerk word deur mense van uiteenlopende agtergronde en oortuigings wat saam ’n nuwe, staatlike identiteit aanneem. Dit word ook aangebied as ’n regeringsvorm wat gekenmerk word deur sekere regte en vryhede wat aan ons gewaarborg word. Vandag het jy byvoorbeeld ’n “reg op menswaardigheid”, wat daarop neerkom dat jy daarop kan aandring dat mense jou op ’n spesifieke manier moet hanteer – en dat jy die staat se instrumente kan gebruik om dit af te dwing. Vroeër het demokrasie verwys na ’n homogene kulturele gemeenskap – soos die Voortrekkers – wat bymekaar kom om te kies wie uit hulle eie gemeenskap die aangewese persoon is om hulle te lei. Die Atheners van ouds het glad nie die konsep van menseregte geken nie. Vir die Atheners het waardigheid nie beteken dat jy daarop kan aandring dat mense op ’n sekere manier teenoor jou optree nie. ’n Mens se waardigheid is gemeet aan die waarde wat jy tot jou gemeenskap toevoeg. ’n Waardige mens was een wat bereid was om groot opofferings ter wille van sy gemeenskap te maak – soos koning Leonidas van Sparta wat bereid was om vir sy mense te sterf.
So ook met vryheid. In ons moderne verwysingsraamwerk word vryheid voorgehou as individuele vryheid, gekenmerk deur menseregte en die idee dat ’n mens vry is as jy kan doen wat ook al jy wil. Of, soos Steven Pinker, die outeur van Enlightenment Now dit stel, ’n mens is vry as jy vry is om jou lewe te verwoes. Dit is presies die teenoorgestelde van die manier waarop ons voorouers oor vryheid gedink het. Vir ons voorouers was ’n mens nie vry as jy doen wat jy begeer nie. ’n Mens was vry as sy gemeenskap vry was. En as die gemeenskap (of die “volk”) onderdruk word, kon daar nie sprake van individuele vryheid wees nie. Vryheid was nog altyd iets wat ’n mens, in gemeenskap met ander, ’n werklikheid maak wanneer jy daarvoor werk en in die proses bereid is om persoonlike opofferings te maak.
Dit beteken nie dat ons alles wat nuut is moet verwerp en alles wat ons voorouers gesê het klakkeloos moet napraat sonder om self eie denke aan die dag te lê nie – maar dat ons nie moet swig onder die druk om alles wat nie “modern” is te verwerp nie. Dit is ’n teken van ’n verantwoordelike gemeenskap as ons voortdurend by ons voorouers leer sonder om alles onverwyld na te praat, maar ook sonder om alles net te verwerp.
Wanneer ons oor die krisis van die Suid-Afrikaanse bedeling en ook oor die krisis van die moderne wêreld praat, is dit belangrik om soms net weer te gaan vasstel hoe ons voorouers oor sekere dinge gedink het, en om te gaan kyk of hulle nie dalk al lankal antwoorde gehad het vir vandag se probleme nie. Donald Kingsbury het gesê dat tradisie ’n stel oplossings is waarvan ons die probleme al vergeet het. Ons mag dalk net vind dat ons moderne probleme juis nou opduik, omdat die oplossings wat ons voorouers reeds vir daardie probleme ontwikkel het, juis vandag met die badwater uitgegooi word.