2 Maart 2022
Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) sê hy het nie nóg staatshulp nodig nie, en gaan binne die volgende paar jaar winsgewend wees.
Die SAUK-raad en bestuur het dié aankondiging gedurende ‘n sitting van die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge – SKOOR – gemaak tydens sy voorlegging oor sy finansies en onwettige uitgawes.
Die openbare uitsaaier is tans in die tweede jaar van sy jongste regrukplan – wat swaar leun op personeelbesnoeiings.
Die adjunk-minister van kommunikasie, Philly Mapulane, is egter nie so optimisties nie en sê die SAUK se inkomste het drasties gekrimp.
Hy sê hoewel die raad en bestuur vas oortuig is dat hulle nie nóg ‘n hulppakket van die staat af gaan nodig hê nie, bly die gebrek aan inkomste ‘n rede tot kommer vir die uitsaaier en sy aandeelhouer.
Die SAUK het aangedui dat ‘n verpligte openbare media-heffing – wat op alle huishuidings gehef word – ‘n aangewese plaasvervanger vir die uitgediende televisielisensie-stelsel kan wees om sy inkomste aan te vul.