15 Julie 2021
Die onluste van die afgelope paar dae in KwaZulu-Natal en Gauteng raak ook nou die pluimveebedryf.
Volgens die Pluimveevereniging van Suid-Afrika (Sapa) moes talle dag oue kuikens reeds van kant gemaak word omdat hulle weens die onluste nié na plase vervoer kan word nie en ook nie geslag word nie.
Dit beteken dus dat die verskaffing van hoender aan kleinhandelaars en restaurante ook waarskynlik geraak gaan word. Die bestuurder van Sapa, Izaak Breitenbach sê omdat die produkte nie vervoer kan word nie sal dit ‘n ernstige gevolg inhou, wat verskaffing betref.
“Ons verskaffingskanale is erg ontwrig omdat logistieke maatskappye en verspreidingsentrums op baie plekke in die land moes sluit.” Breitenbach sê hoewel baie van Sapa se lede hoenderprodukte vries en stoor, is selfs toegang tot vriesgeriewe beperk.
Hy meen die misdaad, geweld en wetteloosheid in die land is besig om voedselsekerheid in Suid-Afrika te bedreig.
Die kwessie van vervoer beteken ook dat hoenderkos in sommige gevalle nie aan plase verskaf kan word nie.
Hou Afrikaans op die lug