17 Desember 2024
Die sluiting van die Lebombo-grenspos weens onrus in Mosambiek het Suid-Afrika al uitvoere ter waarde van R4,8-miljard gekos.
’n Verlies van R566-miljoen is ook aan invoere gely.
Volgens die minister van finansies, Enoch Godongwana, is die volle omvang van die koste aan die Suid-Afrikaanse ekonomie weens die voortslepende post-verkiesingsgeweld in Mosambiek – insluitend in Maputo en op die N4-handelskorridor – nog nie bepaal nie.
Syfers van oorgrensdeklarasies en -handelsdata vir die periode tussen 9 Oktober en 6 Desember vanjaar – soos aangeteken by die Lebombo-Ressano Garcia-grenspos – toon ’n daling van 20% in uitvoerdeklarasies vergeleke met die ooreenstemmende periode in 2023.
Dit verteenwoordig ’n daling van R4,8-miljard in produkte wat vir doeane verklaar is.