’n 52-jarige onderwyser van die Heinz Park Primary School is vanoggend kort voor 8:00 in sy motor in die skool se parkeerterrein doodgeskiet. Twee mans het hom glo oorval.
Die polisiewoordvoerder, kolonel André Traut, het bevestig dat twee misdadigers van die toneel gevlug het. Die omstandighede rondom en die motief van die moord word ondersoek.
Die Graad 6-wiskundeonderwyser is sedert 2008 by dié skool.
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het die voorval as skokkend beskryf en het intussen berading vir leerlinge en leerkragte gereël.
Kol. Traut doen ’n beroep op die publiek om enige inligting aan Crime Stop deur te gee by 08600 10111.