8 Maart 2022
Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, sê haar departement is besig om met die Padverkeersbestuurkorporasie saam te werk om deur middel van die skoolstelsel te verseker dat skoliere bestuurslisensies en leerlinglisensies kan bekom.
Motshekga het in antwoord op ‘n parlementêre vraag gesê hulle beplan om teoretiese lesse in die klaskamer aan te bied, asook om die akkreditasie by die korporasie te behartig.
Sy sê die plan is steeds ‘n prioriteit vir die departement, maar dat dit weens begrotingsprobleme eers op die langebaan geskuif moet word.
Die minister sê padveiligheidsopvoeding is in die oopbron Lewensoriëntering-handboeke ingesluit en hulle werk met die Padverkeersbestuurskorporasie saam om te verseker dat leerders die skoolstelsel met minstens ‘n leerling-bestuurslisensie kan verlaat.