31 Januarie 2022
Ondersteuners van oud-president Jacob Zuma het reeds sedert vroeg vanoggend buite die hooggeregshof in Pietermaritzburg byeengekom waar hy vandag verskyn in verband met die wapenskandaal.
Dié verskyning hou verband met die klagtes van korrupsie, bedrog, rampokkery en geldwassery tydens die land se wapenaankope waarop hy en die Franse wapenmaatskappy, Thales, tereg staan.
Zuma, wat vroeër op mediese parool vrygelaat is, verskyn self vandag in die hof. Hy doen aansoek om verlof tot appèl, teen ‘n beslissing van regter Piet Koen, om nie aan Zuma se vroeëre versoek te voldoen om die staatsaanklaer, advokaat Billy Downer, van die saak te onttrek nie.
Sy regsverteenwoordigers voer aan dat Downer bevoordeeld teenoord Zuma is. Zuma se jare-lange ondersteuner, Carl Niehaus, Dudu Myeni, Supra Mahumapelo en sy dogter, Duduzile is buite die hof.
Intussen het Zuma se regsverteenwoordiger, advokaat Dali Mpofu aangevoer dat sake van die oud-president anders as ander sake hanteer word. Hy meen daar behoort nie een stel wette vir Zuma en ander wette vir ander mense te wees nie.