27 November 2023
Die departement van gesondheid in Limpopo ondersoek die dood van ‘n pasiënt wat glo toegang tot die Northam-kliniek in die Waterberg-distrik, geweier is.
Die persoon was nie in ‘n goeie toestand nie, en het baie gebloei toe sy familie hom in die vroeë oggendure van Saterdag by die kliniek afgelaai het. Volgens berigte het veiligheidswagte glo gesê hy kan nie ingaan nie weens die feit dat daar beurtkrag was.
Die LUR vir gesondheid in Limpopo, Thilivhali Muavha sê hierdie gebeure is ‘n skending van basiese menseregte om toegang tot gesondheidsdienste te hê. Hy sê sy departement wag nog op ‘n volledige verslag oor wat presies gebeur het, maar het benadruk dat hulle geskok, hartseer en kwaad is.
Muavha het ‘n beroep op veiligheidswagte en ander personeel gedoen om hulle te bepaal by hulle eie pligte, en meen die wagte kan nie besluit oor ‘n pasiënt se opname nie.