18 Mei 2023
Die departement van gesondheid in KwaZulu-Natal sê bewerings dat ‘n Durbanse vrou by ‘n lykshuis in ‘n plaaslike hospitaal wakker geword het, is onwaar.
Die 52-jarige Constantia Junior Govender het in die plaaslike koerant, die Phoenix Tabloid beweer dat sy vroeër vanjaar in die yskas van die lykshuis by die Mahatma Gandhi-hospitaal wakker geword het nadat sy dood verklaar is.
Govender het aan die koerant vertel dat sy flou geword het, terwyl sy in haar motor oppad was na ‘n vriendin. Toe sy wakker word was sy in die lykshuis se vrieskas, “koud, naak en toe onder ‘n laken.”
Die woordvoerder van die departement, Ntokozo Maphisa, sê Govender kom haal gereeld haar medikasie by die hospitaal. Daar is egter geen rekord dat Govender by die hospitaal óf die lykshuis was gedurende die tyd wat sy beweer het dat sy in die lykshuis wakker geword het nie.
Hy sê die departement het ook navraag gedoen by lykshuise in die omgewing, maar meen daar is geen rekord van Govender nie.
Die DA se woordvoerder oor gesondheid in KwaZulu-Natal, Edwin Baptie sê die bewerings moet ondersoek word en meen dit moet nié ligtelik opgeneem word nie.
Dit is glo nie die eerste keer wat ‘n soortgelyke voorval by die lykshuis van die Mahatma Gandhi-hospitaal plaasvind nie. In 2016 het ‘n motorfietsbestuurder ook in ‘n vrieskas wakker geword, nadat hy verkeerdelik dood verklaar is. Hy het wel ure later gesterf weens sy beserings.