24 Maart 2023
Die minister van toerisme Patricia de Lille sê die beoogde borgskap van die Engelse sokkerklub, Tottenham Hotspur is volgens regsadvies, wat sy ingewin het, onwettig en ongeldig.
Sy het vanoggend ‘n mediakonferensie gehou oor die omstrede borgskap, wat SA Toerisme en die departement van toerisme byna R1-miljard sou kos.
LEES OOK: OMSTREDE SOKKER-BORGSKAP TYDELIK STOPGESIT
Die regering het onder skoot gekom nadat die beplande borgskap aan die lig gekom het. Die departement het aangevoer dat dit internasionale toeriste na Suid-Afrika sou lok. Dié projek is in Februarie tydelik stopgesit.
De Lille meen die regering word met Suid-Afrikaners se belastinggeld toevertrou daarom moet dit bestee word aan noodsaaklike kwessies.
Volgens De Lille het haar regsverteenwoordiger drie redes verskaf oor waarom die beoogde borgskap onwettig is. Een van die redes is dat daar nié begroot is vir die borgskap nie, wat beteken dat dit onreëlmatig sou wees.
LEES OOK: SOKKERBORGSKAP: SA TOERISME HOOF VERDEDIG DOELHOK
De Lille het aan SA Toerisme geskryf om uit te vind of die beoogde borgskap gekanselleer is en indien dit wel die geval is, moet bewyse aan haar verskaf word. Sy meen dit is haar departement se verantwoordelikheid om toeriste na die land te lok, om sodoende werksgeleenthede te skep, maar dit moet volgens die wet gedoen word.
Sy sê weens SA Toerisme se tussentydse reaksie op die regsadvies, kan die borgskap volgens haar opgeskort word.