Nuuskommentaar: 1 September
Deur: Werner Human
Die afgelope week is die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se saak om die verkiesingsdatum uit te stel in die Konstitusionele Hof aangehoor. Dit kom ná ʼn verslag van die afgetrede adjunk-hoofregter Moseneke waarin aanbeveel word dat die verkiesing uitgestel moet word.
Die verslag berus op verskeie gronde vir die uitstel van die verkiesing, waarvan die belangrikste is dat daar nie genoegsame tyd sal wees om die nodige voorbereidingswerk vir die verkiesing te doen nie, en dat ʼn wye reeks mediese kenners glo dat ʼn verkiesing ʼn toename in Covid-gevalle tot gevolg sal hê – wat tot verdere sterftes mag lei.
Kortliks is die rede wat aangevoer word, dus dat vrye en regverdige verkiesings in Oktober 2021 onmoontlik sal wees. Dit is egter opvallend dat daar nie algehele konsensus tussen mediese kenners bestaan oor wanneer die verkiesing behoort plaas te vind nie. Professor Abdool Karim, wat vir lank die voorsitter van die ministeriële advieskomitee vir Covid-19 was, glo dat die verkiesing in Oktober wel moet voortgaan. Hy voer aan dat Suid-Afrika in Februarie moontlik voor ʼn vierde golf te staan gaan kom met nuwe variante – wat ons weer na die tekenbord gaan terugneem. Sy ander kollegas wat ten gunste van uitstel is, se standpunt berus op die hoop dat genoeg mense teen Februarie 2022 ingeënt sal wees.
Professor Karim het daarna ook gesê dat selfs indien 67% van die volwasse bevolking teen Februarie 2022 ingeënt is, ons steeds nie die veel gesogte “kudde-immuniteit” sou bereik het nie omrede die verwagte nuwe variante daardie doelwit ongedaan sal maak.
Gesondheidsoorwegings gee dus nie ʼn duidelike riglyn of die verkiesing uitgestel moet word of nie. Wat die regsargumente betref, is dit, soos verwag, baie tegnies van aard.
Waarnemende hoofregter Zondo het egter deur verskeie tegniese lae gesny en aan die OVK gevra: “Hoe gemaak indien dieselfde, of erger, omstandighede in Februarie 2022 heers?” Hoe kan ʼn hof konsekwent wees indien hy op dieselfde stel feite verskillende bevindings maak? Dit is te verstane dat die hof daaroor bekommerd is.
Die antwoord van die OVK was dat die hof dán kan besluit dat die verkiesing tog voortgaan.
Hierdie antwoord deug egter nie. Dit kom voor of die OVK net tyd wil wen om reëlings vir die verkiesing te tref eerder as wat enige werklike gesondheidsoorwegings ʼn rol speel. Die posisie is eerder: “verkiesings nou, of op ʼn onbepaalde datum”. Indien dieselfde omstandighede in Februarie bestaan, gaan dit moeilik wees om konsekwent te wees en verkiesings te laat voortgaan in dieselfde of erger omstandighede.
Die punt is, die vereiste dat verkiesings “vry en regverdig” moet wees, moet beoordeel word aan die hand van die konteks waarin ons leef. “Vry en regverdig” in ʼn pre-Covid-konteks lyk anders as vandag. Vele lande het suksesvol verkiesings gehou – alhoewel nie sonder uitdagings nie.
Die verkiesing moet in Oktober plaasvind, aangesien daar op grond van veel betroubaarder data gehandel kan word, en nog belangriker, om die gevaarlike presedent te verhoed waar munisipale rade se termyne verleng word.
In die konteks van vandag is die beste kans op ʼn vrye en regverdige verkiesing dat dit in Oktober 2021 moet plaasvind.
Hou Afrikaans op die lug