Nuuskommentaar: 6 Februarie 2023
Deur: Barend Uys
Soms as mens rondkyk, maak omstandighede mens so moedeloos dat mens twyfel oor die toekoms.
Die nuus dat Duitsland besluit het om tenks aan Oekraine te skenk, is ʼn grootse historiese gebeurtenis. Bloot om te hoor dat Duitsland saam met die VSA en Engeland as bondgenoot by militêre optrede betrokke raak, (al is dit op ʼn indirekte manier) tref mens diep. Tweedens is dit histories as mens dink aan die destydse Rykskanselier van die Duitse Ryk, Otto von Bismarck, se gesegde dat die geheim tot sukses in politiek ’n goeie verdrag met Rusland is. Mens kan nie anders as om te wonder of Duitsland, as magtige industriële Europese moondheid, se besluit om betrokke te raak nie noodwendig tot ʼn Derde Wêreldoorlog sal lei nie. Aan die plaaslike front bedreig beurtkrag ondernemings se voortbestaan en winsgewendheid en veral besproeiingsboere, wat verantwoordelik is vir die produksie van die meerderheid voedsel, ly groot skade en laat mens besorg oor voedselsekerheid.
Elkeen van ons word gekonfronteer met die vraag: Waarheen nou?
Dié uitdagende omstandighede dwing mens om op te hou rondkyk, en weer op te kyk. Dit laat mens net weer besef: ons bepaal nie die uitkomste nie, die uitkomste, dít wat uiteindelik bereik word, is in die Here se hande. Dit is ook deur op te kyk dat ons weer die geleentheid kry om te besef wat die maatstaf vir ons as gelowiges is van wat “reg” is. Uiteindelik is dít wat reg is, dáárdie optrede wat spreek van gehoorsaamheid aan God – soos aan ons geopenbaar in die Bybel.
Nadat ons weer sekerheid en rustigheid kon kry uit die besef dat ons en ons kinders in die Here se hande is, word ons met die volgende vraag gekonfronteer: Wat moet ek nou doen?
In die Disney rolprent Frozen II bevind een karakter haarself op ʼn laagtepunt, sy het geliefdes verloor en wat alles gedoen sal moet word om weer geluk vir hulle koninkryk te verseker is onbekend. Sy twyfel selfs of ʼn gelukkige einde enigsins moontlik is. Soos sy voor hierdie uitdagings staan wat totaal onoorkombaar lyk, besef sy dat daar net een ding is wat sy kan doen, en dit is “die volgende regte ding”.
Uit die storie kan ons dus iets leer: Wanneer ons rondkyk en die uitdagings vir ons onmoontlik lyk, moet ons vir ʼn oomblik ophou rondkyk en eerder opkyk en weer die sekerheid kry dat die toekoms in die Here se hande is. Daarna moet ons vorentoe kyk, die volgende tree gee en eenvoudig die volgende regte ding doen.
Dinge in die wêreld loop nie skeef omdat groot dinge skielik verkeerd loop nie. Die bose oorwin wanneer gewone goeie mense nie die regte dinge doen wat binne hul vermoë is om te doen nie. Maar genadiglik is die teenoorgestelde ook waar: dinge in die wêreld loop in die regte rigting wanneer gewone goeie mense besluit om eenvoudig die volgende regte ding te doen.
Kom ons maak die tyd om vir ʼn oomblik tot stilstand te kom, op te kyk en dan vorentoe te kyk en eenvoudig die volgende regte ding te doen – en vertrou dan die Here met die uitkomste.
Foto: Bloomberg