Nuuskommentaar: 12 April 2022
Deur: Francois Redelinghuys
Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) was die afgelope tyd in die nuus weens dié entiteit se verklaring dat hy ‘diep teleurgesteld’ is in die aanstelling van Arrie Rautenbach as Absa se nuwe uitvoerende hoof. Die diepe teleurstelling waarna die OBK so mildelik verwys hou nie verband met Rautenbach se vaardighede, ervaring of vermoë om as uitvoerende hoof van die bankgroep te dien nie, maar berus op een feit wat Rautenbach nie kan verander nie. Hy is wit.
Benewens die feit dat Absa Rautenbach aangestel het weens sy bewese ervaring van meer as 25 jaar in die bankwese, stel die OBK duidelik nie daarin belang dat ‘n bank, waarin hy ‘n aandeel van 5.41% besit, goed presteer nie. Nee, die OBK stel dit baie duidelik dat transformasie, volgens hulle, ‘n ‘kernstrategie’ van Absa moet wees en dat hierdie strategie deur die direksie gedryf moet word. Om ‘n sportmetafoor te gebruik: Dit is dus baie duidelik dat die OBK baie meer omgee oor hoe die spanfoto lyk, as die punte op die telbord.
Hierdie is natuurlik ‘n blatante rassistiese uitspraak. Dis amper ondenkbaar dat ons in ‘n samelewing leef waar ‘n entiteit nie net voel dat hy kritiek moet lewer teen die aanstelling van ‘n persoon wat volgens hom die ‘verkeerde’ velkleur het nie, maar boonop homself regverdig deur absoluut te glo dat sy uitspraak goed en reg is. Daar word myns insiens werklik geglo dat dit na wense is om hierdie standpunt te huldig en dat dit na wense is.
As witmense het ons almal al waarskynlik soortgelyke uitlatings gehoor. Ons het selfs al dalk gewoond geraak daaraan. Dit is egter iets wat ons nie mag normaliseer nie en moet ons derhalwe aanhou om die abnormaliteit van ‘n samelewing wat glo dat rassistiese uitsprake soos hierdie wenslik is, uit te wys.
Daar is egter ‘n verdere, dieper rassisme wat hier na vore kom. ‘n Rassisme wat dikwels nie so blatant is nie en waarskynlik beskryf kan word as ‘goedbedoelde rassisme’. ‘n Rassisme wat die OBK in hierdie geval waarskynlik nie eers besef hy pleeg nie. Dit waarna ek verwys is die insinuasie deur die OBK dat ‘n swartmens nie hierdie of ‘n soortgelyke pos op meriete kon bekom nie, en dus aangestel moet word omdat hy of sy swart is. Dit is natuurlik bog. Velkleur bepaal nie vermoëns nie.
Hierdie vorm van paternalisme is seker een van die ergste vorms van rassisme. Wetgewing wat dus ten doel het om mense op grond van ras te bevorder al dan nie is ruiterlike rassisme. Dit geld vir beide kante. Dit is nie net waar vir die persoon of groep wat deur die wetgewing benadeel word nie, maar ook vir dié wat bevorder word. Ten beste doen dit afbreek aan die prestasies van ‘n persoon wat op meriete verkies word en ten slegste normaliseer dit die idee dat iemand nie in ‘n pos sou wees as dit nie vir sy of haar velkleur was nie, ongeag vermoëns.