8 Januarie 2024
Die DA het gevra dat president Cyril Ramaphosa ‘n bestaande ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) uitbrei, om onlangse bewerings van korrupsie by die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema, NSFAS, in te sluit.
In ‘n skrywe aan Ramaphosa het die leier van die amptelike opposisie, John Steenhuisen, hom ook gevra dat hy die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande – asook die hele NSFAS-raad – moet skors hangende die uitslag van só ondersoek.
Steenhuisen het uitgevaar teen die manier waarop NSFAS bestuur word en sê die bewerings van korrupsie moet gesien word teen die agtergrond van duisende hulpbehoewende studente wat moet sukkel om betalings van dié skema te kry.
Die Organisasie teen Belastingmisbruik (OUTA) het klankgrepe bekom waarin daar beweer word dat Nzimande en die voorsitter van die NSFAS-raad, Ernest Khosa miljoene rand ontvang het van diensteverskaffers.
Steenhuisen meen eerder as om studente by te staan om bo hulle omstandighede uit te styg, fokus die ANC eerder op hulleself, en hoe hulle hul eie lewens kan verbeter.
“Unlike our current President, the people of South Africa are courageous beyond all measure. In just a few short months from now, we must all harness that courage to vote for the DA to rescue South Africa.” – @jsteenhuisen#NoStudentLeftBehind#RescueSA
— Democratic Alliance (@Our_DA) January 8, 2024