Nuuskommentaar: 17 Februarie 2023
Deur: Mari Oosthuizen
Die kwessie van uitsluiting op grond van ras het die week weer opspraak gemaak nadat dit aan die lig gekom het dat eerstejaarstudente van dorpskoshuise aan die Noordwes-universiteit se Potchefstroomkampus na bewering nie toegelaat is om die verwelkomingsfunksie by te woon nie.
Die koshuise se huiskomiteelede het na bewering half 12 Vrydagaand ‘n WhatsApp-boodskap van ‘n studenteraadslid ontvang waarin hulle ingelig is dat die koshuise nie divers genoeg is nie en dat dit wit gaan lyk as eerstejaarstudente gevra word om op te staan.
Die NWU het ondersoek ingestel en hou vol dat die amfiteater nie groot genoeg is om al die eerstejaars te kan akommodeer nie. Hulle moes die sessie virtueel in ‘n ander lokaal volg.
Hierdie tipe nuus is uiters hartseer, maar kom eintlik nie as ‘n verrassing nie. Universiteite en skole het ‘n politieke speelbal geword vir diegene wat kies om hulle eie agendas te dryf.
Hierdie studente, soos studente op alle ander kampusse het hard gewerk om eerstens universiteitstoelating te kry, en in baie gevalle het die studente se ouers begin spaar vir klasgelde sedert die student se geboorte. Nou word hulle uitgesluit om grond van hulle velkleur.
As ‘n oud-student is dit uiters hartseer om hierdie stories te lees omdat geleenthede soos verwelkomingsfunksies herinneringe word om verewig te koester. Dit is hier waar lewenslange vriendskappe gevorm word, en waar jy ook dikwels jou man of vrou ontmoet.
Een van die NWU se studenteraadslede, Beátha Groenewald het egter besluit dat sy nie gaan stilbly oor diskriminasie wat hom by die Universiteit afspeel nie. Sy het besluit om op te staan vir die regte van alle studente, wat haar verkies het as SR-lid. Gevolglik is sy haar plek op die raad kwyt. In ‘n mosie van wantroue teen haar het die bestuur aangevoer dat sy vertroulike inligting aan die media gelek het.
Groenewald hou egter vol dat sy verwyder is omdat sy gekies het om op te staan vir dit waarin sy glo. Hierdie storie is ook ongelukkig nie uniek nie. Dit gebeur al hoe meer dikwels wat sosiale kwessies soos, ras, geslag en seksuele voorkeure swaarder weeg as geloofsoortuigings en morele waardes.
Geslagsidentiteite en ras-gelykheid is onderwerpw wat dikwels vermy word, sodat daar nie op tone getrap word nie. Die jongemense wat tussen 1997 en 2012 gebore is, generasie Z of zoomers – soos hulle bekend staan, het in ‘n meer diverse tyd groot geword as die generasies voor hulle. Hierdie ouderdomsgroep is meer blootgestel aan enkel-ouer families, ouers van dieselfde geslag, gemengde ras-huwelike en het ook meer te make met die LGBTQI+-gemeenskap.
As gevolg hiervan verwag die “zoomers” dat alle generasies hierby moet aanpas. Hulle vergeet egter dat nie alle generasies in ‘n soortgelyke omgewing grootgeword het nie. Byvoorbeeld die baby boomer-generasie wat tussen 1946 en 1964 gebore is, is die selfversekerde generasie, wat verhoudings respekteer. Hulle het vertroue in hulle eie vermoeëns en sal hard werk vir dit wat hulle het.
Die grootste probleem hier ter sprake is dat mense en hulle moderne sieninge belangriker geag word as tradisionele sieninge. Soos Beátha word sy van haar pos verwyder as sy kies om op te staan vir dit waarin sy glo.
Wanneer gaan ons ophou om bang te wees as jy nie saamstem met iets nie? Dit gaan mos nie verander as ons nie ons sê sê nie?
Die kruks van die saak is, ek respekteer jou en jou sieninge, maar kan dit wedersyds ook gebeur?