9 Februarie 2024
AfriForum Jeug sê hy het sy regspan opdrag gegee om ondersoek in te stel vir moontlike regstappe in verband met die tydelike skorsing van ’n senior student aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.
Die student het na bewering openlik beswaar gemaak teen die inhoud wat tydens ’n oriëntasiegeleentheid vir eerstejaarstudente, op Dinsdag 6 Februarie bespreek is. Tydens die sessies is onder meer LBGTQIA+-regte bespreek.
Die senior student, Shaun Christie, het na bewering kritiek gelewer en aangevoer dat studente nie veilig voel om oor Christenskap te praat nie, maar dat gesprekke oor geslagskwessies wel toegelaat word.
Die NWU se woordvoerder, Louis Jacobs het bevestig dat die betrokke student geskors is. Hy meen Christie het die sessie ontwrig en het nie die ander studente gerespekteer nie. Volgens Jacobs was daar ‘n groot groep studente wat na Christie se toespraak saam met hom die lokaal verlaat het.
“Die NWU is trots op sy diversiteit en die feit dat studente van alle rasse, gelowe, kultuur, geslagte en seksuele oriëntasie hulleself mag uitleef.”
Volgens Jacobs is dit duidelik aan die eerstejaarstudente gestel dat niemand hulle dwing om die betrokke sessie by te woon nie. “Ons beskou die gebeure in ‘n baie ernstige lig.”
Die woordvoerder van AfriForum Jeug, Ronald Peters sê Christie se skorsing behels onder meer dat hy nie die kampus mag betree of gebruik mag maak van enige fasiliteite nie. Hy mag ook nie deelneem aan enige akademiese verrigtinge of geregtig wees op enige regte waarop ’n NWU-student gewoonlik mag aanspraak maak nie.