23 Mei 2023
Die soektog na die Britse dogtertjie wat in 2007 as vermis aangemeld is het vanoggend by ‘n dam buite Praia da Luz – in Portugal – begin.
Madeleine McCann was drie jaar oud toe sy ontvoer is, terwyl sy saam met haar ouers en tweeling boetie en sussie vakansie gehou het. Die Duitse polisie lei die ondersoek by die dam en reservoir omdat die enigste verdagte in die saak, die Duitser, Christian Brueckner (45) gereeld die dam besoek het.
Hy word van verskeie seksuele misdrywe aangekla, tussen 2000 en 2017 maar het ontken dat hy by Madeleine se verdwyning betrokke was. Brueckner is in 2020 amptelik as verdagte geïdentifiseer.
Volgens polisie is hulle onseker of biologiese bewyse gevind sal kan word, en hoop om ander bewyse soos klere te kry wat aan Maddie behoort het.
Die soektog kom slegs 10 dae nadat Madeleine se ouers, Kate en Gerry McCann haar geluk gewens het op wat haar 20ste verjaarsdag sou wees. Polisie sal die ouers deur die loop van die soektog op hoogte hou van die gebeure.
