4 Julie 2024
Die nuutaangestelde minister van binnelandse sake, dr. Leon Schreiber is nié in Zimbabwe gebore nie, maar wel in Piketberg in die Wes-Kaap, en hy het op Kleinzee in die Namakwaland grootgeword.

Schreiber het self gereageer om die feite te stel nadat berigte op sosiale media versprei is dat hy in Zimbabwe gebore is en later eers na Suid-Afrika verhuis het.
Een van die “X”-rekeninge vanwaar dié waninligting versprei word behoort aan ene Mehmet Vefa Dag – wat ‘n kandidaat was vir die Land-Party – wat nie hond haaraf kon maak tydens die afgelope verkiesing nie.
Die waninligting het moontlik sy oorsprong in ‘n Wikipedia-stryd tussen twee of meer proeflesers met redigeringsmagtiging wat teenstrydige inligting op die blad aangebring het.
In sommige plasings oor Schreiber se land van herkoms is foto’s van ‘n Wikipedia-blad geplaas waarop daar wys dat Schreiber van die buurland afkomstig is.