Nuuskommentaar: 20 Oktober 2021
Deur: Johnell van Vollenhoven
Die aanvoeling vir geskiedenis op laerskool- en selfs hoërskoolvlak is nie ’n natuurlike ding nie. Kinders word meermale deur ouers en veral onderwysers beïnvloed op grond van hulle eie liefde vir die gebeure van die verlede, en die passie waarmee hulle hierdie kennis meedeel.
Dit is dan geensins verbasend dat die meerderheid van leerlinge werklik geen benul het oor wat hulle eie geskiedenis behels nie, om nie eens te praat van die groter Suid-Afrikaanse geskiedenis of selfs die wêreld se geskiedenis nie. As jy na die sosio-ekonomiese omstandighede waarbinne die meeste Suid-Afrikaanse kinders grootword kyk, kan daar aanvaar word dat ’n vak of leerarea soos geskiedenis nie werklik hoog op die voerlys is nie. Waar ouers bitter selde teenwoordig is en grootouers vir ’n aantal kleinkinders moet sorg, of ouer sibbe hulleself deur ’n skoolloopbaan moet worstel terwyl hulle na die jonges omsien, kom die dinge van die verlede in sy volle waarheid en konteks waarskynlik bitter min na vore.
’n Mens kan voortgaan om die doel van die oorvertel van geskiedenis te verdedig omdat jy glo dit verskaf konteks, identiteit en ’n beweegrede vir die toekoms. Maar dít is ’n onderwerp vir ’n ander skrywe. Die gevolg is egter dieselfde. Ons sit met generasies wat geen benul het waarom dinge gebeur, of waarom hulle in bepaalde omstandighede leef nie. Al wat hulle het is verwronge propaganda met die doel om verdeeldheid te saai en rassehaat aan te wakker.
Sekere politici het egter agterkom dat die gaping nou gans te groot raak en dat dit nie net die Afrikaner-geskiedenis is wat verswyg en verwronge aangebied word nie, maar dat die “struggle-geskiedenis” ook as’t ware verlore gaan. Die stryd om vryheid en die name wat daarmee verbind moet word, is nie meer algemene kennis binne hierdie politici se eie kiesers en hulle kinders nie. Die verenigde front wat die meerderheid moet saamvoeg het verkrummel.
En wat doen enige regering wanneer hy iets moet “regmaak” of “breek”? Hy gaan doen dit in die onderwys. Hy implementeer stelsels en wysig vakinhoud om sy ideologie in jong gedagtes af te druk terwyl hulle nog in hulle vormingsjare is.
Ek wonder net tot watter mate die staat dink hy suksesvol gaan wees met die uitrol van sy nuwe “ANC”-leerplan vir Geskiedenis? Hoe lanklaas het hy werklik ’n omvattende oudit in sy skole gaan doen?
Ek verwys natuurlik nie na die funksionele skole wat nie durf om ’n voet verkeerd te sit nie. Hier verwys ek na die skole waar onderwysers dikwels nie opdaag vir hulle klasse nie, waar leerlinge sonder dissipline die skool op horings neem en waar vandalisme aan die orde van die dag is. Hierdie skole maak nouliks kurrikulums klaar en hulle akademiese prestasie laat veel te wense oor. Daar is nie handboeke nie, en die skryfbehoeftes en skrifte wat deur die departement verskaf word hou selde langer as ’n kwartaal. Sonder hulpmiddels moet die leerkrag spook om nie net orde te handhaaf nie, maar om terselfdertyd kennis met passie en ywer oor te dra sodat die presteerder sowel as die leerling wat net na die volgende graad oorgeplaas is, gestimuleer kan word.
Op grond hiervan is my gevoel dat hierdie nuwe geskiedeniskurrikulum in sy werklike doel gaan misluk. Daar is geen manier dat die DBO dit suksesvol sal kan implementeer nie. Die skole waar die funksionaliteit laag is sal nie oor die hulpbronne beskik om die vak te kan oordra nie, soos tans die geval in ander vakke by daardie skole is. Alhoewel ek bekommerd voel dat hierdie geskiedenis wel op my kind afgedwing gaan word, weet ek ook dat die oordrag van die inhoud by die onderwyser berus en dat ek as ouer wat deel van ’n ouergemeenskap en beheerliggaam is ook ’n sê het oor die oordag van daardie inhoud en die aanslag wat in die klaskamer gebruik word. Daarmee saam leer ek self ook my kinders van hulle herkoms.
Hierdie aangepaste geskiedenis sal nie die Afrikaner se geskiedenis en sy erfenis uitwis soos die ANC hoop nie. Dit sal ook nie sy eie jeug opvoed soos hy hoop nie. Dit sal wel die Afrikaner net meer aanvuur sodat die geskiedenis van ons vaders met ywer en passie aan ons kinders oorgedra word.
Stem vir die Aitsa’s