19 Junie 2023
Die departement van vervoer sê dat Suid-Afrika se nuwe bestuurslisensies voor die einde van die huidige boekjaar bekendgestel sal word.
Dié boekjaar kom teen die einde van Maart 2024 tot ‘n einde.
Volgens die departement sal die nuwe rybewys nader aan internasionale standaarde belyn word, met die nuwe kaart wat ook voorsiening maak vir die inkorporering van nuwe tegnologie.
’n Nuwe bestuurslisensiekaart in Suid-Afrika sal verbeterde sekuriteitskenmerke hê – insluitend biometriese data, hologramme en watermerke – om die vervalsing van rybewyse te verminder in ‘n poging om padveiligheid te verbeter.
Die huidige bestuurslisensiekaarte sal uitgefaseer word, en die drukmasjien wat dit vervaardig, sal na verwagting uit diens gestel word. Dít kom nadat die departement die afgelope naweek aangekondig het dat Suid-Afrika se enigste drukker weer werk nadat dit vroeër gebreek het.
Die departement van vervoer sê in ‘n verklaring hy hoop dat die agterstand met die druk van meer as 350 000 rybewyskaarte teen einde Augustus uitgewis sal wees.
