Die vlieënier van die Impala-vliegtuig wat vroeër vandag tydens die Weskus-lugskou op die Saldanha-lughawe neergestort en oorlede is, is volgens die vluglys James O’Connell.
Die Impala het glo vroeër aan die Suid-Afrikaanse Lugmag behoort voor hy dit oorgekoop het.
O’Connell was deel van ’n vertoning by die Weskus-lugskou toe die ongeluk omstreeks 15:00 vanmiddag gebeur het.
‘n Toeskouer, Jaco Grobbelaar, wat alles sien gebeur het, sê die Impala het opgestyg en was sowat 15 minute in die lug toe hy skielik agter ’n skuur neergestort en in vlamme en swart rookbolle verswelg is.
Die lugskou is glo vanoggend byna gekanselleer omdat die wolke te laag was. Die wolke was sowat 800 voet hoog en eers teen 13:00 het die organiseerders laat weet die wolke het tot 1 500 voet gelig.
Hulle het magtiging gegee dat die skou kon voortgaan.
Op beeldmateriaal van André le Roux van Durbanville, wat aan Netwerk24 verskaf is, kan ’n mens sien hoe die vliegtuig ’n lugtoertjie doen deur in die rondte te tol.
Volgens Grobbelaar het die vliegtuig so laag gevlieg dat dit blyk dat daar nie tyd was om die uitskietstoel te gebruik nie.
Navrae is aan die Burgerlugvaartowerheid gestuur, maar geen reaksie is nog ontvang nie.
Fotokrediet: Pieter van Rensburg
One Response
Hou van julle nuus