3 Julie 2023
Daar word steeds gesoek na ‘n 9-jarige seun wat gister in die see by Sandy Bay in die Kaapse Skiereiland verdwyn het.
Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) op Houtbaai, het branders die kind van die rotse afgeslaan, waarna reddingspanne van die NSRI in Bakhoven, provinsiale nooddienste en die polisie omstreeks 15:45 op 2 Julie met hul soektog begin het.
Hy is van Houtbaai en was glo saam met maats na Sandy Bay toe die voorval plaasvind.
Die instituut se woordvoerder, Craig Lambinon sê helikopters is ook ingespan om na die kind te soek. Teen laat gistermiddag kon die kind nog nie gevind word nie.
Die NSRI se stasiebevelvoerder in Houtbaai, Carmen Long, sê die polisieduikers se soektog na die kind duur voort.
