Hoofstuk 30 – 15 September 2023
Deur: Willie Spies
Ek was ‘n 24-jarige LLB student toe ek in my koshuiskamer by Sonop in Murraystraat 93, Brooklyn na die eerste uitsendings van Pretoria FM op 18 September 1993 geluister het.
1993 was ‘n somber jaar in Suid-Afrika.
In die paasvakansie van 1993 is Chris Hani in die oprit van sy huis in Boksburg aan die Oos-Rand doodgeskiet. Twaalf dae later is die leier van die amptelike opposisie in die destydse Volksraad, Dr Andries Treurnicht, skielik na ‘n kort siekbed oorlede.
Op die 1ste Mei sou die eerste van ‘n reeks gewapende aanvalle deur APLA, die gewapende vleuel van die Pan Africanist Congress en geïnspireer deur die slagkreet “one settler, one bullet” op verskeie teikens plaasvind.
Die eerste was ‘n aanval op gaste in die Highgate Hotel in Oos-London, waar vyf gaste doodgeskiet is.
Vier dae later het APLA-lede vier polisielede in Dobsonville, Soweto doodgeskiet en op 25 Julie het nog APLA lede 11 kerkgangers in die St. James Kerk in Kenilworth Kaapstad doodgeskiet en meer as 50 gewond. Die laaste van APLA se aanvalle op sagte teikens die jaar sou plaasvind op 30 Desember toe vier mense in die Heidelberg Taverne in Observatory, Kaapstad deur ses gewapende APLA-lede doodgeskiet is.
In September 1993 was dit nog geen uitgemaakte saak dat Suid-Afrika ‘n vreedsame oorgang na meerderheidsregering sou maak nie.
Die land was op ‘n mespunt, al het die VSA op 23 September alle sanksies wat die VSA teen die Nasionale Party regering ingestel het, opgehef.
Dit was in hierdie onstuimige tye dat die eerste uitsendings van die stasie te velde sou begin en sou aanhou, ten spyte van baie struikelblokke.
Hierdie uitsendings sou help om rigting te gee aan ‘n Afrikanergemeenskap wat getraumatiseerd, onseker en sonder duidelike rigting was. Dr Christo Pretorius skryf dat die radio “in onvriendelike en onstuimige omstandighede aan Afrikaners ‘n tuiskomplek gebied”.
Ek was bevoorreg om in 2011 ‘n oproep te kon ontvang van een van die radio se direksielede, Regter Johan Smit om betrokke te raak by ‘n projek om die stasie te help lei op ‘n pad van groei en ontwikkeling te midde van baie onsekerhede en finansiële beperkinge.
Dit sou vir my die begin wees van ‘n pad waarop ek baie meer geleer het as wat ek kon aanbied. Dit was ‘n pad waar die radio kon groei van stryd-radio na vryheids-radio. Waarin ons personeel kon ontwikkel en selfstandig kon raak met ‘n toekomsverwagting en ‘n standvastige werk.
‘n Volk is so sterk soos sy instellings. Pretoria FM het een van daardie instellings van die Afrikanermense geword wat oproep, saambind en inlig.
Pretoria FM sal vir sy luisteraars en gemeenskap vanuit Afrikanergeledere ‘n luistergenoot en ‘n huisgenoot bly.
Soos Esmarie Yssel dit beskryf: “Pretoria FM was nog nooit net ’n radiostasie nie. Dis ’n radiofamilie, nie net tussen kollegas nie, maar tussen werknemers en luisteraars en ek’s trots om deel van hierdie familie te wees.”
Elke selfoon in elke Afrikanerman of -vrou se hand, ongeag of hy of sy in Pretoria, Parys, Perth, New York of London bly, kan ‘n radiotoestel word wat die boodskap van hoop, geloof en lewe in Afrikaans bly bring.
Nie net in Pretoria en omgewing nie, maar oor die groen heuwels van Kwa-Zulu Natal, die goue Vrystaatse vlaktes, die dorre Karoo, die berge, dale en strande van die Kaap en tot in elke uithoek van die aarde.
Die toekoms is een waarin Pretoria FM homself voortdurend gaan vernuwe, sonder om sy ontstaansrede en bestaansrede te versaak.
Dertig jaar gelede het Ds Mossie van den Berg toe daar gevra is “wat nou?” gesê “nou gaan ons net aan”.
Vandag “gaan steeds aan” ten spyte van ‘n vyandige omgewing en ons groei en bou en maak seker dat niks ons sal uitdryf uit hierdie land wat ons tuiste is nie, maar dat ons boodskap gehoor word.
In die woorde van Steve Hofmeyr in sy verjaarsdaglied oor Pretoria FM:
“Ons hou aan,
Ja, ons hou aan,
Om die vlam van vryheid te laat vlieg tot by die maan,
Ons jou mirre se sy, jou tent in Bethlehem,
Ons onderkry is min, ons is Pretoria FM.”
Hierdie was die laaste van 30 voorlesings oor die geskiedenis van Pretoria FM ter herdenking aan ons 30 jarige bestaan. Ons hartlike dank aan elkeen wat bygedra het tot die boekstawing van hierdie geskiedenis. Prof AD Pont, wyle Prof Schalk Botha, en Regter Bill Prinsloo. Enkel bydraes is ook gelewer deur Fred Maree, Corrie Pretorius, Sarel du Plessis, Sarina Bosman, Dr Christo Pretorius, Karen Zeelie, Hannetjie Bester en die direksie van Radio Magaliesberg, Lucia van Wyk, Regter Johan Smit, Esmarie Prinsloo, Wouter Botes, Dr Pieter Mulder en Heinrich Marnitz.
Die redaksionele versorging is hanteer deur Willie Spies en die voorleser was Sarina Bosman.
