24 Junie 2022
Die premier van Noordwes, Bushy Maape het op ‘n geskrewe vraag van die DA bevestig dat die Noordwes Provinsiale regering meer as R14-miljoen in drie jaar bestee het op die Gupta-koerant, The New Age.
Die DA se Noordwes-woordvoerder oor plaaslike regeringsake, Freddy Sonakile sê dit het uiteindelik vier jaar later aan die lig gekom dat die koerante, wat “gratis” versprei is, nooit gratis was nie. Hy meen die koerante is versprei ten koste van dienslewering aan gemeenskappe.
“Die onthulling kon nie op ‘n beter tyd kom nie, weens die feit dat regter Raymond Zondo sopas die vyfde deel van die staatskapingsverslag aan president Cyril Ramaphosa oorhandig het.
Sonakile sê die ooreenkoms met die Noordwes-regering volgens die Diensvlakooreenkoms het vir ‘n tydperk van 3 jaar geduur, vanaf Desember 2014 tot Desember 2017.
Luidens dié ooreenkoms moes TNA Media – wat ook deur die Gupta’s besit is – 4 000 New Age koerante elke weeksdag in Noordwes versprei. Dit het die provinsiale regering R4 684-miljoen per jaar gekos.
Sonakile sê die DA sal die kwessie verder neem.
Foto: The Daily Maverick