28 Junie 2023
KwaZulu-Natalse nooddienste het bevestig dat minstens een persoon in Mayville in Durban dood is weens gister se oorstromings.

Verskeie wonings in die gebied is ook deur die vloedwater vernietig. Die woordvoerder van die KwaZulu-Natalse nooddienste, Robert McKenzie, sê verder is ses mense tydens die oorstroming beseer.
Dit kom te midde van inwoners van Inanda en Phoenix, wat laat gistermiddag videos en foto’s op sosiale media versprei het waarin ‘n tornado gesien kan word. Volgens McKenzie is nooddienste besig om die geraakte gebiede te besoek om die skade weens die tornado te bepaal.
Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake in KwaZulu-Natal se woordvoerder, Nonala Ndlovu sê dit is nog onduidelik hoeveel mense dakloos gelaat is weens die weersomstandighede.
Die woordvoerder van die Nasionale Seereddinginstituut (NSRI) se Durban-tak, Clifford Ireland sê ‘n motoris is laat gisteraand uit ‘n boom langs die Umbilo-rivier in Pinetown gered nadat hy in sy motor in kitsvloede vasgekeer is. Hy sê minstens vier motors het in die gebied weggespoel.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n geel vlak-2 waarskuwing uitgereik vir nog vloede en donderstorms wat in KwaZulu-Natal kan voorkom. Volgens die diens verwag hulle veral swaar reënval in die eThekwini- en Ugu-distrikte, wat reeds gister grootskaalse kitsvloede beleef het.
