10 Januarie 2022
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) het die linkerbaan op die N1-Suid net voor Bothalaan in Centurion gesluit as ‘n voorsorgmaatreël nadat ‘n sinkgat die afgelope naweek gevorm het.

Volgens SANRAL het onlangse swaar reën in Gauteng tot die vorming van die sinkgat gelei.
SANRAL sê sy span ingenieurs en ‘n instandhoudingskontrakteur is besig om ondersoek in te stel oor hoe daar te werk gegaan moet word om die invloed op motoriste te versag.
Progress Hlahla, SANRAL se bestuurder van die noord-streek, sê hulle het ook die hulp van geotegniese spesialiste ingeroep om die toneel te evalueer.
‘n Woordvoerder van die Tshwane Metropolisie, Isaac Mahamba sê verkeersvloei word deur die sluiting van die baan geraak, maar hulle hou die situasie dop en hoop dat die pad binnekort weer oop sal wees.