13 Junie 2023
Die klagstaat wat by die Bloemfonteinse landdroshof in die Thabo Bester-ontsnappingsaangeleentheid ingedien is, beweer dat Zanda Moyo in April verlede jaar ‘n liggaam onder valse voorwendsels by die lykshuis van die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein opgeëis en afgehaal het.
Daar word beweer dat Moyo – wat dié naweek in verband met die sameswering aangekeer is – beweer het dat die liggaam dié van sy broer, Themba Ndlovu is, wat ‘n taxibestuurder was wat van Zimbabwe afkomstig is.
Dié liggaam sou na bewering in die ontsnappingsplan van die moordenaar en verkragter, Thabo Bester, gebruik word.
Die liggaam is verlede jaar Mei verkool in Bester se sel gevind.
’n Lykskouingsverslag het aan die lig gebring dat die oorledene – wat later deur middel van DNS-toetse uitgeken is – Katlego Bereng was en hy het gesterf nadat hy met ‘n stomp voorwerp oor die kop geslaan is.
Moyo se saak is tot die 20e Junie uitgestel wanneer dit by die van die ander agt beskuldigdes gevoeg sal word.
