Nuuskommentaar: 2 November 2021
Deur: Jaco Kleynhans
Regoor Suid-Afrika sal daar oor die volgende dae en weke koalisie-onderhandelinge na die pas afgelope munisipale verkiesing plaasvind. Die stempersentasie was besonder laag met minder as die helfte van geregistreerde kiesers wat gaan stem het. Dit het veroorsaak dat die ANC, veral in stedelike gebiede, baie steun verloor het en in baie munisipaliteite tot onder 50% van steun en setels teruggesak het. Die vraag is nou of die uitslag van hierdie verkiesing hoop bied vir Suid-Afrika se korrupte, verkrummelende munisipale orde en die haglike omstandighede waarin miljoene mense elke dag moet leef. ‘n Goeie voorbeeld is die Renosterberg Munisipaliteit in die Noord-Kaap. Dié munisipaliteit is volgens bevolking die vierde kleinste, en vir baie Suid-Afrikaners dalk ook een van die onbekendste, munisipaliteite in die land. Drie dorpe, Vanderkloof, Petrusville en Philipstown, vorm saam Renosterberg en daar is net meer as 6800 kiesers in Renosterberg geregistreer. Renosterberg Munisipaliteit is reeds vir meer as tien jaar grootliks disfunksioneel. Die munisipaliteit is al in die verlede onder administrasie geplaas. Die infrastruktuur in al drie dorpe is in ‘n gehawende toestand en daar heers enorme werkloosheid en armoede. Ten spyte van beloftes deur die ANC-regering in die Noord-Kaap neem die werkloosheid en armoede in dié munisipaliteit net verder toe. ‘n Meerderheid van die dorp se inwoners is afhanklik van maatskaplike toelaes. Tog het ‘n meerderheid van kiesers in Renosterberg in die pas afgelope munisipale verkiesing vir die ANC gaan stem en het die party weer ‘n meerderheid van die setels gewen. Die stempersentasie in Renosterberg was meer as 68%, wat ook in vergelyking met die res van die land, uitsonderlik hoog is. Kiesers in Renosterberg het dus ‘n mandaat vir die ANC gegee, ten spyte van baie jare se verval, korrupsie en swak regering. In ander dele van die land het die ANC onder 50% in talle munisipaliteite terug gesak, hoofsaaklik omdat baie van die party se tradisionele ondersteuners nie gaan stem het nie, of omdat die EFF heelwat gegroei het. Dit is ook niks om oor opgewonde te raak nie. Die opposisiepartye wat na die verkiesing in munisipale rade verteenwoordig sal wees het verder toegeneem en die opposisie is dus nog meer versplinter wat koalisie-onderhandelinge moeiliker sal maak. In sommige munisipaliteite sal nuwe koalisieregerings dienslewering verbeter. In die meeste munisipaliteite gaan dit egter nie gebeur nie. Die werklikheid is dat die meeste Suid-Afrikaners wat kon gaan stem, besluit het om nie te stem nie. Verder wen die ANC steeds gemaklik ‘n groot meerderheid van munisipaliteite soos die Renosterberg-voorbeeld ten spyte van swak dienslewering. Die risiko’s wat ‘n koalisie tussen die ANC en EFF in sommige munisipaliteite inhou moet ook verreken word. Terwyl daar enkele tekens van hoop uit die munisipale verkiesingsuitslae na vore kom, het die verkiesing egter ook bevestig dat dit nou noodsaaklik is dat burgerlike organisasies en gemeenskappe regoor Suid-Afrika moet saamwerk om alternatiewe oplossings vir die land se uitdagings met misdaad, ekonomiese agteruitgang en die verskaffing van basiese infrastruktuur en dienste te vind. Ons mag nie moed opgee nie, maar ons moet ook nie valse hoop in een verkiesing se uitslae soek nie. Die krag van gemeenskappe en burgerlike organisasies sal bepaal of talle dorpe en stede oor die volgende vyf jaar gaan slaag of finaal misluk.