Hoofstuk 25 – 5 September 2023
As regsman was Regter Johan Smit deur die direksie getaak om uit te reik na die besluitnemers van die Solidariteit Beweging.
Hy het later vertel dat hy juis as regsman geleer het dat as jy iemand wil kontak, dan kontak jy sy prokureur. So het die afgetrede regter van die Hooggeregshof, as gesant van die direksie van Radio Pretoria in die eerste helfte van 2011 ‘n telefoonoproep gemaak na Willie Spies, ‘n prokureur wat beide Solidariteit en AfriForum as kliënt verteenwoordig om ‘n gesprek aan die gang te sit met Flip Buys van die Solidariteit Beweging en sy span.
Die aanvanklike gesprekke tussen Regter Smit, Willie Spies en Flip Buys is opgevolg met verdere gesprekke tussen ampsdraers van die Solidariteit beweging en ‘n implementeringskomitee wat deur die direksie van Radio Pretoria gevorm is om oor ‘n groei en ontwikkelingsplan vir Pretoria FM te beraadslaag.
Na die uittrede van Mnr Clem de Clerk as uitvoerende hoof van die stasie in 2011, is die bestuurskrisis behoorlik op ‘n spits gedryf.
Daar is ooreengekom dat die Solidariteit Beweging vir ‘n tydperk van drie maande ‘n tussentydse uitvoerende hoof vir Radio Pretoria sou befonds. Die werk van die tussentydse uitvoerende hoof sou wees om die stasie te bestuur, ‘n nuwe bestuurspan te vind en te ontwikkel, ‘n sake- en volhoubaarheidsplan vir die stasie te finaliseer en die stasie op ‘n volhoubare basis te plaas.
Dit sou sy onbegonne taak wees om binne drie maande ‘n uitvoerende hoof, ‘n stasiebestuurder en ‘n bemarkingsbestuurder vir die stasie te vind om die bestuursvakuum te oorkom.
Die drie maande van Willie Spies se deeltydse betrokkenheid het ses maande geword, die ses maande het ‘n jaar geword en uiteindelik is Willie Spies steeds na 12 jaar betrokke as Uitvoerende Voorsitter van die direksie van die stasie.
As eerste stap is ‘n konsultasieproses met personeel, luisteraars en adverteerders van stapel gestuur om behoeftes te bepaal en leemtes te identifiseer. Die projek is aangepak onder die titel “praat met ons personeel, luister na ons luisteraars en raadpleeg ons reklame-agente”.
As deel van die “praat met ons personeel” projek is ‘n bedrag van R100 000,00 deur die Solidariteit Beweging bewillig en ‘n personeelkompetisie is geloods waarin gewone personeellede voorstelle kon maak oor die mees produktiewe manier om die R100 000 te belê in die groei en ontwikkeling van die radio.
Personeel het ywerig deelgeneem. Die wenvoorstel het gekom van ‘n personeellid wat voorgestel het dat ons die grootste deel van die R100 000 spandeer om die gehalte van die klank op die lug te verbeter.
So gesê, so gedoen en die dienste van Vaughan Taylor is gekontrakteer om ‘n oudit te doen oor ons uitsaaiklank. Hy moes maniere voorstel om met ‘n beperkte begroting ‘n groot verskil te maak aan ons klankgehalte.
Mnr Taylor het ons uitsaaitoerusting evalueer en bevind dat die klankgehalte van uitsendings te verbeter deur die installering van klankverwerkingstoerusting wat die mono-klank van uitsendings kon veredel het tot ‘n dieper digitale stereo-klank.
Hy het ‘n gebruikte Orban-klankverwerker by ‘n kommersiële radiostasie raakgeloop teen ‘n weggeeprys en die installasie is gedoen. Die verskil was ingrypend en dadelik hoorbaar. Komplimente het ingestroom.
So het die eerste hoofstuk begin van ‘n proses waar die radio homself vernuwe het deur bloot ag te slaan op die goeie idees want hardwerkende personeellede wat elkeen iets besonders gehad het om te bied.
Die res van hierdie avontuur het nog meer deurbrake gebring.
