Nuuskommentaar: 2 Augustus 2022
Deur: Jaco Kleynhans
Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers het verlede week wetgewing goedgekeur om die binnelandse halfgeleierbedryf in die VSA te ondersteun. Die tekort aan halfgeleier-mikroskyfies het die afgelope tyd groot uitdagings vir internasionale motorvervaardigers ingehou met veral motorvervaardigers in die VSA en Europa wat groot skade gelei.
Die meeste van die halfgeleier-mikroskyfies wat in nuwe motors se vervaardiging gebruik word, word tans in Taiwan vervaardig met China wat groot moeite doen om sy bedryf uit te brei. Slegs 12% word in die VSA vervaardig. Weens die huidige wêreldwye tekort het die Amerikaanse motorvervaardiger General Motors verlede week gesê dat 95 000 motors by sy aanlegte nie voltooi kan word nie. In Europa is die vervaardiging van 230 000 motors gekanselleer.
Die Chinese ministerie van handel het Vrydag sy misnoeë met die Amerikaanse regering se planne om sy eie mikroskyfiebedryf wesenlik uit te brei, uitgespreek. Volgens die Chinese sal Amerika se planne die wêreldwye halfgeleierverskaffingsketting ontwrig. Wat die Chinese eintlik sê is dat die Amerikaners se planne in die pad staan van China se voorneme om dié bedryf te domineer.
Die Chinese president Xi Jinping het in 2020 ‘n nuwe ekonomiese beleid bekend gemaak. Hiervolgens moet China minder afhanklik van die buiteland raak, veral wat invoere aanbetref. Tweedens moet die Chinese ekonomie so ontwikkel dat die buiteland afhanklik bly van produkte wat in China vervaardig word.
Die Chinese voer hulle ekonomiese beleid op brutale wyse uit deur arbeidskoste laer as in ontwikkelde lande te hou, die manipulering van die Chinese geldeenheid, die diefstal van intellektuele eiendom en ‘n lang reeks ander onmededingende handelspraktyke.
Hoe meer aggressief China hierdie ekonomiese beleid uitvoer hoe duideliker raak dit dat globale vrye handel nie meer so vry is nie. Die president van die Europese Kommissie Ursula von der Leyen het reeds verlede jaar gesê dat Europa ekonomies heeltemal herstruktureer moet word sodat dié kontinent volgens sy eie reëls en waardes kan handel dryf
Tydens sy staatsrede vroeër vanjaar het die Amerikaanse president Joe Biden gesê dat in plaas daarvan om op buitelandse verskaffingskettings staat te maak die VSA voortaan sy eie produkte en onderdele moet vervaardig. Die Amerikaanse minister van finansies Janet Yellen het onlangs gesê dat die VSA verkieslik voortaan net met lande wat vriendelik teenoor die VSA staan moet handel dryf.
Verlede week se besluit oor die vervaardiging van halfgeleier-mikroskyfies in die VSA sluit hierby aan en bevestig dat ‘n nuwe era van proteksionistiese ekonomiese beleid in die VSA aangebreek het. Dieselfde geld vir Europa.
Die uitvoerende hoof van een van die grootste Duitse maatskappye, BASF, Martin Brudermüller het verlede week aan ‘n Duitse publikasie gesê dat globalisering soos ons dit geken het nie weer sal terugkeer nie. Die sekretaris-generaal van Navo het onlangs tydens dié organisasie se jaarvergadering gesê at vryheid nou belangriker as vrye handel is.
Regoor die wêreld vind ‘n herskikking van globale handel plaas. Terwyl Covid-19, die Oekraïne-oorlog en China se toenemend aggressiewe ekonomiese beleid hiertoe bygedra het, was die krake in die stelsel van globalisering en omvattende globale interafhanklikheid al die afgelope paar jaar duidelik. Ook Suid-Afrika sal hierdeur geraak word en Suid-Afrika se politieke vyandigheid teenoor die VSA en Europa kan ons land se handel uiteindelik ook benadeel.