Nuuskommentaar: 20 Oktober 2023
Deur: Bennie van Zyl
Die kwessie van voedselsekerheid en die geleenthede en bedreigings wat dit beïnvloed, het weer tot in diepte gesprekke gelei tydens georganiseerde landbou se kongres seisoen.
Die landbou-ekonoom, professor Johan Willemse het op TLU SA se kongres gewys op die geleenthede wat daar vir boere is. Solank daar mense is, moet daar kos wees. Daar is talle geleenthede binnelands, maar ook om te kan uitvoer.
Op Agri SA se kongres is die stelling gemaak dat daar geen voedseltekort is nie en dat die boere steeds suksesvol voortgaan.
Intussen het Statistieke SA die jongste sensussyfers bekend gemaak. Daarvolgens blyk dit dat Suid-Afrika op pad is na ‘n bevolking van vyf en sestig miljoen, en kritici van dié syfers reken daar was ‘n beduidende onder-telling. Professor Willemse het op TLU SA se kongres al die syfer van sewentig miljoen gebruik, wat dalk nader aan die waarheid is. Dit beteken daar moet steeds méér voedsel geproduseer word net om die binnelandse monde te voed.
Helaas kan die boere hulleself nie meer net met voedselproduksie besig hou nie. Hulle is al byna méér voltyds besig met die beveiling van hulle lewens en eiendom op die plase. Die blatante moord op die twaalfjarige seun van Bapsfontein, wat heldhaftig sy moeder wou beskerm teen die terroriste wat die hoewe betree het, het weer eens die fokus geplaas op die veiligheidsoorlog wat die boere veg om te oorleef. Die polisievakbond SAPU, het boonop aan parlementslede gesê dat mense moet begin besef dat Suid-Afrika in ‘n lae intensiteit oorlog verkeer.
Ander misdaad soos veediefstal, en deesdae diefstal van oeste, maak van boere amper eerder polisiebeamptes as voedselverbouers, en hierdie soort diefstal plaas boere se winsgewendheid erg in die gedrang.
Intussen word daar al hoe meer deur die regering ‘n beroep op die private sektor gedoen om hand by te sit en te help in omtrent enige tak van die samelewing. Hoe volhoubaar is dit egter op die lange duur? Die staat wil die mag stewig in sy hande hou, maar intussen word die verpligtinge van die staat al hoe meer in die hande van die samelewing geplaas, wat dan moet handel in terme van die dikwels onhaalbare en onrealistiese vereistes van die staat.
Die afgelope tyd is ‘n ander oorlog teen boere waargeneem, en dit is die oorlog van brande. Feitlik al die provinsies het deurgeloop onder erge veldbrande, en heelwat getuienis is reeds ingewin wat daarop dui dat dit in verreweg die meeste gevalle te wyte was aan brandstigting.
Weer eens het die staat nie sy werk gedoen nie. In die eerste plek steur staatsinstellings wat beheer oor grond het, hulle geensins aan wetgewing oor brandbane nie. Wanneer die brande dan uitbreek, is daar geen brandweer beskikbaar nie, en moet boere op eie koste met hulle vuurvegters worstel om die vure te blus.
Hierby het ‘n verdere bedreiging gekom: die steeds stygende brandstofpryse. Teen die huidige tempo, gaan boere binnekort nie meer geld hê om hul voertuie te gebruik om vure te gaan blus nie, en netso gaan die punt kom dat boere nie meer kan bekostig om patrollies te ry om hulle omgewing te beveilig nie.
Hierdie is ‘n nuwe maar wesenlike bedreiging wat dringend aandag sal moet kry ter wille van oorlewing, en ter wille van voedselsekerheid.