Nuuskommentaar: 30 April
Deur: Werner Human
Die Minister van Sport, Kuns en Kultuur, Nathi Mthethwa, het ná lang bespiegeling aangekondig dat hy die erkenning van Krieket Suid-Afrika (KSA) as die erkende sportliggaam vir krieket in die land gaan terugtrek. Dit het verder tot gevolg dat daar nie verdere regeringsfondse aan die liggaam toegedeel sal word nie en dat ʼn proses– met regeringsingryping – gevolg moet word om Krieket Suid-Afrika weer op die regte spoor te kry.
Die nuutste is dat die tussentydse raad en lederaad ingestem het tot wesenlike veranderinge aan die oprigtingsakte van Krieket Suid-Afrika. Hierdie veranderinge sluit in dat die raad voortaan uit ʼn groter aantal onafhanklike direkteure sal bestaan – wat die snoesige posisie en invloed van uniepresidente en ander betaalde amptenare in krieket bedreig. Dit is waarskynlik dat hierdie verwikkelinge Mthethwa sal noop om sy besluit te heroorweeg.
Na watter kant toe hy ook al besluit, die krisis lê veel dieper as die organisasie-struktuur van Krieket Suid-Afrika. Die veelbesproke Fundudzi-verslag, wat aan die einde van verlede jaar vrygestel is, het skokgolwe deur die plaaslike en internasionale krieketwêreld gestuur. Van die lang lys bevindinge sluit in dat verkeerde verkrygingsprosesse gevolg is; dat die nodige wetsvereistes vir uitsaairegte van krieketwedstryde nie gevolg is nie; dat kredietkaarte op onregverdigbare uitgawes misbruik is; dat die akkreditasie van sekere joernaliste om krieketwedstryde by te woon en daaroor te berig, teruggetrek was omdat dié joernaliste negatief oor Krieket Suid-Afrika geskryf het; en dat finansiële state vir twee jaar nie ingedien was nie.
Deurlopende swak bestuur, die geheimsinnigheid waarmee Krieket Suid-Afrika bedryf word en selfs die nienakoming van wetsvoorskrifte vereis dat daar nog dieper gedelf word om die ware oorsaak van die benarde posisie waarin Krieket Suid-Afrika verkeer, te verklaar.
Die antwoord lê dalk daarin dat Krieket Suid-Afrika volledig soos ʼn staatsdepartement bedryf word. Die ironie is dat die staat nou wil ingryp om een van sý departemente te red.
Arthur Turner, die uitvoerende hoof van One World Sport, ʼn organisasie wat hom beywer vir die bevordering van krieket in die land, meen dat hierdie debakel die einde van Suid-Afrikaanse krieket inlei, tensy krieket gedepolitiseer word.
Die kanse dat die Minister van Sport daardie heuwel sal aandurf, is nul. Ná al die polemiek is daar nog steeds geen woord gerep oor die duidelike draad wat deur Suid-Afrikaanse sport loop nie, naamlik die versmorende kultuur van rasse- en politieke transformasie nie.
Soos die kabinet kan die Krieketraad geskommel en geherorden word – daar sal geen betekenisvolle verandering kom nie. Graeme Joffe, die bekende sportjoernalis wat na Amerika moes vlug ná sy vele onthullings van wanbestuur in sport, meen dat korrupsie in sport in Suid-Afrika so diepliggend is dat dit ʼn Zondo-kommissie op sy eie regverdig.
Net soos wat munisipaliteite nie dienste kan lewer en hul finansies bestuur nie, is daar ook staatsverval in sport.
Sport is ʼn saakmakende deel van ons gemeenskapslewe. Dit is deel van die vorming van jongmense. Dit bied ʼn platform vir mense om hul talente ten toon te stel en bind mense op ʼn unieke wyse saam.
Soos wat selfbestuur ʼn antwoord op staatsverval is, bevestig die wanbestuur by Krieket Suid-Afrika dat selfbestuur selfs na sportvlak uitgebrei moet word.
Werner Human is die operasionele hoof van die Solidariteit Beweging.