18 April 2024
185 jaar gelede is die eerste skoonheidskompetisie gehou.
Maar, danksy die maatskappy, Fanvue World AI Creator Awards (Waicia) slaan skoonheidskompetisies nou ‘n hele nuwe rigting in. Hulle bied eersdaags die eerste aanlyn skoonheidskompetisie aan vir modelle wat deur middel van kunsmatige intelligensie (KI) geskep is.
Modelle mag slegs deur KI geskep word en die manipulasie van foto’s word nie aanvaar nie. Hulle moet ook so geprogrammeer word dat hulle nie slegte verloorders sal wees nie.
Modelle sal beoordeel word op grond van hulle voorkoms, postuur, hoe realisties hulle menslike voorkom is en antwoorde op vrae soos “as jy een droom kon hê om die wêreld ’n beter plek te maak, wat sou dit wees?”.
Twee van die beoordelaars is KI-gegenereerde smaakmakers, Emily Pellegrini en Atiana Lopez, wat reeds verlede jaar geskep was. Pellegrini het meer as 200 000 volgelinge en Lopez, meer as 300 000.
Die hoofbeoordelaar van die Miss Great Britain-kompetisie, Sally-Ann Fawcett en Andrew Bloch, bemarkingspesialis sal ook op die paneel wees. Fawcett sê sy sien uit daarna om as beoordelaar te dien aangesien daar baie ooreenkomste tussen KI-modelle en modelle is.
Op 10 Mei word die toptien-finaliste aangekondig en die finale seremonie vind later in Mei plaas. Die wenner staan ’n kans om $20 000 te wen.