Nuuskommentaar: 23 Junie
Deur: Flip Buys
Daar word gesê dat die wese van ‘n volk se kultuur in sy spreekwoorde uitgedruk word. In die Afrikaner se geval is dit sekerlik “’n Boer maak ‘n plan”. Hierdie bekende sêding verwys na ons mense se vermoë om oor die eeue selfhelpoplossings vir uitdagings te vind. Dit het gegeld vanaf die tyd toe die land ‘n onderontwikkelde gebied was, totdat dit tot ‘n moderne land uitebou is.
Dit geld vir planne op persoonlike-, gemeenskaps- en selfs nasionale vlak. Afrikaners het in ons geskiedenis nie ‘n sterk staat, groot ekonomie of internasionale hulp gehad om op staat te maak nie. Boere moes planne met min middele maak. Ons moes oor eeue heen self planne maak en dit self uitvoer- gewoonlik midde in sterk teenstand nog ook.
Die bakens op hierdie planmaakpad is aan almal bekend. Dit geld vanaf planne om Westere republieke in Afrika op te rig, miltêre planne teen oormagte, planne om die land na ‘n verwoestende oorlog op te bou, planne om wêreldklas maatskappye, boerderye, skole, universiteite, stede, weermagte en gemeenskapsorganisasies op te bou, tot planne vir oorlewing in Afrika. Die split van die atoom en die eerste hartoorplanting in Afrikaans, die ontwikkeling van die grootste ekonomie op die kontinent, die modernisering van ons taal en soveel meer.
‘n Boer maak ‘n plan is sprekend van ons vindingrykheid, skeppende kultuur, vasberadenheid en moedhou en volhou. Dit het nie altyd gegaan oor volmaakte planne nie, maar planne wat uit nood en in moeilike tye die wa deur die drif moes trek, met min osse wat ingespan kon word. Afrikanerboere se planne was gewoonlik praktiese doenplanne, en nie eerstens gegrond op ingewikkelde teoriëe en landradige praatjies nie. Die dade het getel!
Met die “boer” word nie net na landbouers verwys nie, maar na ‘n volk wat die land opgebou het. Dit verwys ook na ‘n “kandoen” kultuur van selfstandigheid, van regkom sonder magtige vriende, van vasstaan teen groot magte, en van volharding deur moeilike tye.
Daar was wel tye waar “boere” nie planne gehad het nie, of waar die planne nie gewerk het nie. Maar dan was daar weer vinnig ‘n beter plan in plek gestel, want die praktiese benadering was ingestel op oplossings.
Daar was ‘n tyd na 1994 toe dit gelyk het of die “Boere” se planne opgeraak het, en of die wat gemaak is nie uitgevoer is nie. Maar die afgelope jare het dit verander. Daar word nou weer landswyd volop planne gemaak en uitgevoer. ‘n Boer maak ‘n plan, en wag nie vir die regering wat die probleem veroorsaak het om dit te kom regstel nie.
Afrikaners en Boere is nou genoeg afgekraak. Dis tyd dat ons ons koppe optel en meer van onsself dink en meer van onsself verwag. Dr Anton Rupert het tereg gesê dat ‘n klein volk groot moet dink en groot moet doen om te oorleef. Ons het dit al vir eeue met sukses reggekry, en ons sal dit weer regkry. ‘n Boer maak immers ‘n plan!